Nuus 06:00
BULLETIN 13 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Mthethwa se lewe bied verskeie diep en toepaslike lesse
# Shadrack Sibiya sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig
# En krieket: Die Pakistanse kolwers veg terug op die openingsdag van die eerste toets teen die Proteas
# President Cyril Ramaphosa sê die land se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa, het die strewe van Suid-Afrikaners ondersteun, en hy het dit met nederigheid gedoen. Hy het gister die lofrede by die Siyabonga Sangweni-sportkompleks in KwaMbonambi, KwaZulu-Natal gelewer tydens Mthethwa se begrafnis. Ramaphosa sê die lewe van Mthethwa bied verskeie diep en toepaslike lesse vir beide jongmense en diegene binne die ANC en die regering, veral in ‘n tyd wanneer baie die toekoms van die struggle bevraagteken:
# Die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris, Shadrack Sibiya, sal vandag begin om voor die Parlement se ad hoc-komitee te getuig. Die komitee ondersoek bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die polisiediens. Sibiya se getuienis volg nadat sy huis in Centurion verlede Donderdag deursoek is, waar beslag gelê is op verskeie elektroniese toestelle. Die deursoeking-en-beslagleggingsoperasie vorm deel van ‘n voortgesette ondersoek na misdaadkartelle in Gauteng. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het Sibiya betrek by die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het bevestig die provinsie is ten volle voorbereid vir die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens van 21 Oktober tot 27 November. Chiloane het die jongste inligting bekend gemaak oor leerderplasing en eksamengereedheid by Parktown Girls High School in Johannesburg. Die LUR sê meer as 192-duisend kandidate het vir die eksamen geregistreer en meer as eenduisend sentrums is geregistreer vir eksamenaflegging:
# Die regering het met diepe kommer kennis geneem van die onlangse politieke verwikkelinge in Madagaskar. Die woordvoerder vir die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê die regering betreur die tragiese lewensverlies en die vernietiging van eiendom. Hy sê Suid-Afrika vra alle rolspelers om kalm te bly en selfbeheersing toe te pas, en dring aan dat alles moontlik gedoen word om te verhoed dat spanning verder verhoog of die humanitêre situasie vererger:
# Krieket: Pakistan het herstel ná ‘n mini-ineenstorting om die eerste dag van die eerste toets teen Suid-Afrika op 313 vir vyf in Lahore af te sluit. Die tuisspan het vier paaltjies vir 36 lopies verloor. ‘n Tweedepaaltjie-vennootskap van 161 lopies tussen Imam-ul-Haq en kaptein Shan Masood, en ‘n onoorwonne sesdepaaltjie-vennootskap van 114 tussen Mohammad Rizwan en Salman Agha het Pakistan in ‘n sterk posisie geplaas voor die tweede dag. Die reeks van twee wedstryde is deel van die nuwe Wêreld Toetskampioenskap tweejaarsiklus. Die Proteas is die heersende kampioene nadat hulle Australië in Junie geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-106-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-55-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, het 54 hoërskoolleerders gelukgewens wat beurse van die Departement se Leerakademie ontvang het. Hy sê 15 laerskoolleerders het ook kontantpryse ter waarde van 225-duisend-rand namens hul skole ontvang tydens die 2025 nasionale beoordeling van die Departement se Water en Sanitasie Opvoedkundige Program. Mahlobo sê hierdie toekennings baan die weg vir ‘n blinker toekoms in die water- en sanitasiesektor:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….