Nuus 06:00
BULLETIN 9 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel minister Angie Motshekga aan as waarnemende president
# Mkhwanazi beskuldig sommige joernaliste van die publisering van sensitiewe veiligheidsinligting
# En Rusland sê daar is geen momentum oor vir ‘n vredesooreenkoms met Oekraïne nie
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, as waarnemende president aangestel, aangesien beide die president en adjunkpresident, Paul Mashatile, tans in die buiteland is. Ramaphosa het Woensdag ‘n amptelike besoek aan Ierland afgelê en sal vandag die Global Gateway Forum in Brussel, België, bywoon. Mashatile is op ‘n tweedaagse besoek aan Soedan om vergaderings te hou oor die toepassing van die Hernude Ooreenkoms oor die Oplossing van Konflik in Suid-Soedan.
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi sê die land kan in vlamme opgaan as besonderhede oor interne ANC-veldtogbetalings bekend gemaak word. Mkhwanazi het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê sekere amptenare is betrokke by politieke inmenging, en die sakeman Brown Mogotsi het toegang gehad het tot sensitiewe polisie-inligting. Brown het na bewering finansiële steun aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se politieke bedrywighede verskaf:
Mkhwanazi, sê sekere joernaliste het sensitiewe sekerheidsinligting gepubliseer, wat polisie-operasies bedreig. Hy sê die lekkasies het polisiebedrywighede en beamptes wat aan geklassifiseerde sake werk, in gevaar gestel. Hy het die Staatsveiligheidsagentskap versoek om teen diegene wat verantwoordelik is op te tree en gewaarsku dat die openbaarmaking van sulke inligting nasionale veiligheid en voortgesette ondersoeke ondermyn:
# Rusland sê die momentum om ‘n vredesooreenkoms in Oekraïne te bereik, na Vladimir Putin en Donald Trump se presidensiële beraad in Alaska, het grootliks verdwyn. Die twee leiers het in Augustus ontmoet, maar kon geen ooreenkoms bereik oor die beëindiging van die drie-en-‘n-half jaar lange oorlog nie. Diplomatieke pogings het sedertdien ook misluk, met Moskou en Kiëf wat dodelike aanvalle op mekaar uitvoer. Die Russiese adjunkminister van Buitelandse Sake, Sergei Ryabkov, blameer Europa vir die dooiepunt en beskuldig die vasteland dat hulle ‘n oorlog tot die laaste Oekraïner wil voer.
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, kan minstens die eerste toets in die reeks om die As teen Engeland misloop. ‘n Knaende rugprobleem verhoed dat hy kan begin boul, slegs ses weke voor die begin van die eerste toets in Perth die 21ste van volgende maand. Dis volgens berigte ook moontlik dat Cummins die hele reeks kan misloop, wat voortgesit word in Brisbane, Adelaide, Melbourne en Sydney. As hy nie kan speel nie, sal Steve Smith na verwagting kaptein wees en Scott Boland die plaasvervanger-bouler.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-333-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-18-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag is Wêreldsigdag, wat daarop gemik is om bewustheid te skep oor die belangrikheid van die handhawing van gesonde visie. Die tema vanjaar is #LoveYourEyes. Vandag beklemtoon ook die wêreldwye poging om voorkombare blindheid uit te skakel en die lewensgehalte van individue met sigverlies te verbeter. Wêreldwyd is 2,2-miljard mense naby- of veraf-siggestremd. Ongeveer een-miljard van daardie gevalle is voorkombaar met behandeling. Nepal het die hoogste koers van siggestremdhede en blindheid, gevolg deur Duitsland en Turkye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….