Nuus 06:00
BULLETIN 8 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mkhwanazi sê misdaadsindikate het die regstelsel landwyd geïnfiltreer
# AfriForum blokkeer die Eskom-Nersa-skikking ter waarde van miljarde
# En die NVG gaan Vusimuzi ‘Cat’ Matlala se borgtogappèl teenstaan
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi het aan die parlement se ad hoc komitee gesê, kriminele sindikate landswyd het gedeeltes van die regstelsel binnegedring. Die komitee wat Mkhwanazi se beweringe oor polisiekapings aanhoor, het gister begin. Hy het getuig dat korrupsie nie beperk is tot KZN of Gauteng nie, maar ook provinsies soos die Wes-Kaap raak. Mkhwanazi het onthul dat skelm beamptes, aanklaers en hofbeamptes met misdadigers saamwerk om ondersoeke en hofsake te ontwrig:
# AfriForum het Eskom en Nersa se skikking van 54-miljard-rand, wat verbruikers ‘n jaarlikse tariefverhoging van byna nege-persent kon kos, tydelik gestaak. Die Hooggeregshof in Pretoria het onbestrede die saak van die rol geskrap nadat AfriForum ingegryp het, wat die groep en ander toelaat om by die verrigtinge aan te sluit. Deidré Steffens van AfriForum sê die ooreenkoms toon ‘n gebrek aan deursigtigheid en openbare deelname. Sy beklemtoon aanspreeklikheid en die beskerming van verbruikersregte te midde van bekommernisse oor finansiële wanbestuur by Eskom:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle het ‘n mosie ontvang van die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala, dat hy van voorneme is om teen die Alexandra-landdroshof se borgtogweiering verlede maand, te appelleer. Hy en nog vier word daarvan beskuldig dat hulle die mislukte sluipmoord op Matlala se voormalige vennoot, die sosiale vlinder, Tebogo Thobejane, in Oktober 2023 beplan het. Die Gautengse woordvoerder van die Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwana, sê hulle sal Matlala se appèlaansoek teenstaan:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se pogings om die Nasionale Wag in Demokratiese stede te ontplooi het ‘n reeks hofaansoeke veroorsaak. Hy sê die ontplooiing is gemik teen wetteloosheid en om agente te help om sy immigrasie-beleid af te dwing. ‘n Federale regter het die administrasie tot die einde van die dag kans gegee om te verduidelik waarom die ontplooiing in Illinois en Chicago nie verbied moet word nie. Die Withuis het die Appèlhof gevra om te wag met ‘n bevel van ‘n regter in Oregon wat ontplooiing in Portland keer.
# Tennis: Die beheerliggaam van die beroeps-manspel, die ATP, sal ‘n amptelike hitte-reël oorweeg na ‘n aantal onttrekkings uit die Sjanghaise Meesterstoernooi in China hierdie week. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, is gedwing om handdoek in te gooi weens erge krampe, terwyl spelers soos Casper Ruud van Norweë, David Goffin van België en die Fransman Terence Atmane ook hulle wedstryde prysgegee het weens temperature van bo 30-grade Celcius en vogtigheid van 80-persent. Die ATP sê hy is bereid om die bestaande hitte-reëls aan te pas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-672-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nobelpryswenner het ‘n oproep van gelukwensing geïgnoreer omdat sy gedink het dit is ‘n vals-oproep terwyl ‘n ander persoon tans op ‘n staptog is. Wetenskaplikes Mary Brunkow, Fred Ramsdell en Shimon Sakaguchi het die 2025 Nobelprys vir Geneeskunde gewen vir die identifisering van regulatoriese T-selle. Dit is die immuunstelsel se sekuriteitswagte en keer dat immuunselle ‘n persoon se eie liggaam aanval. Brunkow sê sy het ‘n oproep van die Nobelpryskomitee geïgnoreer omdat sy gedink het dit was ‘n bedrogspul. Ramsdell is op ‘n rugsakreis en weet nog nie van die prys nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….