Nuus 06:00
BULLETIN 26 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa en sy Turkse ampsgenoot bespreek Israel telefonies
# Die Reserwebank voorspel ‘n lae brandstofprys-inflasie vir 2024
# En, ‘n beskuldigde in die Senzo Meyiwa-moordsaak beweer hy is drie-miljoen-rand aangebied om mense te betrek
# Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het bevestig dat hy per telefoon met president Cyril Ramaphosa gepraat en streeks- en wêreldkwessies bespreek het. Dit sluit ondermeer in die Israeliese aanvalle op Palestina en die bilaterale betrekkinge tussen Turkye en Suid-Afrika. Die gesprek kom op die vooraand van die Internasionale Geregshof se uitspraak vandag oor Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel, met Israel wat moontlik beveel kan word om sy militêre operasies in Gasa onmiddellik te staak. Erdogan sê Israel het misdade teen die mensdom gepleeg en moet die straf kry wat hy verdien.
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank verwag brandstofprys-inflasie sal vanjaar laag wees, met ‘n gemiddeld van onder een-persent. Daar is egter ‘n effense opwaartse hersiening vir voedselprysinflasie tot 5,7-persent, maar breedweg bly dit onveranderd in die tydperk onder vooruitsig. Die president, Lesetja Kganyago, sê die Monetêre Beleidkomitee het bykomende maatreëls aanbeveel om ekonomiese omstandighede te versterk. Hy sê dit sluit in die bereiking van ‘n verstandige staatskuldvlak, die verhoging van die energievoorraad en die behoud van lae geadministreerde prysinflasie:
Die uitvoerende hoof van BetterBond, Bradd Bendall, het intussen die besluit geprys om die terugkoopkoers onveranderd te hou. Hy glo dit is ‘n positiewe teken en gee verligting met huislening-druk. Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het eenparig besluit om rentekoerse vir die vierde agtereenvolgende vergadering te handhaaf, wat die terugkoopkoers op 8,25-persent, en die prima uitleenkoers op 11,75-persent hou. Bendall sê die besluit dui op bestendiging ten opsigte van rentekoerse:
# Een van die mans wat aangekla word van die moord op die sokkerster, Senzo Meyiwa, in 2014 het ‘n opspraakwekkende bewering in die Hooggeregshof in Pretoria gemaak. Beskuldigde nommer twee, Bongani Ntazi, het deur sy regsverteenwoordiger, Thulani Mngomezulu, verklaar hy is drie-miljoen-rand aangebied om sekere mense by die saak te betrek. Ntazi beweer die hoofondersoeker, Bongani Gininda, het hom die geld aangebied om ʼn bekentenis-verklaring te onderteken wat ongenoemde mense sou betrek. Gininda ontken sulke bewerings ten sterkste en sê sy eenheid beskik nie oor sulke geld of so ʼn motief nie.
# Rugby: Die dissiplinêre komitee van die Europese Professionele Klubrugby het ‘n aanklag teen die Leeu-haker PJ Botha teruggetrek, wat beteken hy sal môre beskikbaar wees vir die Verenigde Rugbykampioenskapbeker-wedstryd teen die Bulle. Hy is aangekla nadat hy die Ospreys se agterspeler, Harri Deaves, tydens hul wedstryd verlede Sondag met die elmboog gestamp het. Die komitee sê hy het bevind dat Botha vuil gespeel het, maar het besluit die oortreding regverdig nie ‘n rooi kaart nie, en die klag is daarom teruggetrek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-862-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-22-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-51-sent per vat.
# En om mee af te sluit, romantiese Britte is bekommerd oor ‘n moontlike tekort aan rose in die land vir Valentynsdag. Dit is veroorsaak deur grensdeursoekings wat ingestel is vandat die land uit die Europese Unie onttrek het. Die Britse regering is gevra om te waarborg daar sal genoeg rose wees. Die Arbeider-parlementslid Daniel Zeichner sê mense wat die invoer van plant- en dieregesondheidprodukte hanteer, is diep bekommerd oor die situasie. Hy sê die proses om ‘n petunia uit Nederland in te voer, het reeds van 19 tot 59 stappe vermeerder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….