Nuus 06:00
BULLETIN 1 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bring hulde aan ambassadeur Nathi Mthethwa
# Trump gee Hamas vier dae om te reageer op sy plan om die oorlog in Gaza te beëindig
# En rugby: Die omstrede Andrea Piardi sal die skeidsregter op Twickenham wees
# President Cyril Ramaphosa betreur die dood van Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, Nathi Mthethwa, wat in Parys op die ouderdom van 58 oorlede is. Ramaphosa het sy meegevoel betuig met sy vrou, Philisiwe Buthelezi, sy familie en kollegas. Hy het Mthethwa geloof vir sy diens in die kabinet as minister van Sport, Kuns en Kultuur, en Polisie. Die woordvoerder vir die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die volk betreur ‘n toegewyde dienaar wie se lewe tragies en te gou geëindig het:
Die ANC het Mthethwa intussen beskryf as ‘n toegewyde kader van die bevrydingstryd en dienaar van mense. Die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê Mthethwa se lewe was een van beide stryd en diens:
# Getuienis by die Madlanga-kommissie in Pretoria dui aan sakeman en ANC-beïnvloeder, Brown Mogotsi, het toegang tot geklassifiseerde polisie-inligting gehad. Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het aan die kommissie gesê Mogoti het geweet van die ontbinding van die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde, voor die aankondiging gemaak is. Khumalo sê Mogotsi het Vusimuzi “Cat” Matlala ingelig oor die besluit en die oordrag van 121 dossiere aan adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die afgedankte lede van die SA Toerismeraad beskuldig dat hulle onvanpaste taktiek gebruik het om haar onder druk te plaas om hulle weer aan te stel. Verlede maand het die afgedankte raadslede ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die minister se besluit tersyde te stel. Hulle voer aan dat die minister goeie bestuur, verantwoordbaarheid en die onafhanklikheid van statutêre rade ondermyn. In haar verklaring sê De Lille die raadslede se bewerings van onwettighede wat haar besluit onderlê, is ongegrond.
# Die Amerikaanse president Donald Trump het ‘n ultimatum van “drie of vier dae” aan Hamas gestel om te reageer op sy plan vir Gaza, terwyl die militante groep die voorstel oorweeg wat deur Israel gesteun word. Die plan eis ‘n wapenstilstand, Hamas se vrylating van gyselaars binne 72 uur, die ontwapening van Hamas en die geleidelike onttrekking van Israel uit Gaza, gevolg deur ‘n na-oorlogse oorgangsgesag onder leiding van Trump self. Wêreldmoondhede, insluitend Arabiese en Moslem-nasies, het die voorstel verwelkom, maar Hamas moet nog antwoord.
# Rugby: Die Italiaanse skeidsregter Andrea Piardi, wat daarvan beskuldig word dat hy Australië onlangs twee keer ernstig benadeel het, is in beheer van Saterdag se Rugbykampioenskapstoets tussen Suid-Afrika en Argentinië in Londen. Hy het in die doodsnikke van die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus ‘n omstrede drie aan die Leeus toegeken het wat hulle die reeks laat wen het. Hy het ook verlede week teen die All Blacks geblaas, waarna baie Wallabie-ondersteuners, internasionale kenners en selfs spelers onreëlmatighede in sy beslissings uitgewys het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-23-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-861-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….