Nuus 06:00
BULLETIN 30 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana bevraagteken gratis gesondheidsorg vir ongedokumenteerde migrante
# Putin roep 135-duisend mans op vir roetine militêre diens
# En rugby: Die Pumas verloor twee spelers voor hul Twickenham-kragmeting teen die Springbokke
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die bekostigbaarheid van gratis openbare gesondheidsorg aan ongedokumenteerde migrante bevraagteken en sê beperkte hulpbronne moet wettige inwoners bevoordeel. Godongwana het in Pretoria gesê die Grondwet verplig die staat om dienste aan almal te verskaf, maar noem dit ‘n ernstige fout. Sy opmerkings volg te midde van voortgesette spanning in die land oor migrasie en openbare dienste wat onder druk is. Hy het bevestig die Tesourie hersien regeringsbesteding om maniere te vind om geld te bespaar en vermorsing te vermy.
# Die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, het die Madlanga-kommissie meegedeel slegs twee lede van die “Groot Vyf”-kartel is tot dusver geïdentifiseer, terwyl drie ander nog onbekend is. Khumalo sê Vusimuzi “Cat” Matlala en Katiso “KT” Molefe is deel van die sindikaat wat betrokke is by dwelmsmokkelary, kapings, tenderbedrog en kontrakmoorde. Hy beskuldig ook die sakeman, Brown Mogotsi, wat in die binnekring van die Polisieministerie is, dat hy sy invloed gebruik om ondersoeke na Matlala te keer:
# Eskom sê hy is steeds verbind tot die uitvoering van sy operasionele opwekkingsherstelplan, om energiesekerheid, ekonomiese groei en langtermyn-volhoubaarheid vir Suid-Afrika en die breër sub-Sahara-streek te verseker. Die kragverskaffer het bevestig dat Eenheid 6 by Kusile-kragstasie in Mpumalanga amptelik in diens gestel is. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle versnel ook pogings om hul hernubare energieportefeulje uit te brei om die kragverskaffer se basiese ladingsinfrastruktuur aan te vul:
# Die president van Rusland, Vladimir Putin het 135-duisend-mans opgeroep vir roetine militêre diens, die land se grootste herfs dienspligveldtog sedert 2016. Rusland roep alle mans tussen die ouderdomme van 18 en 30 op vir verpligte diens elke lente en herfs. Van dienspligtiges word verwag om vir ‘n jaar diens te doen by ‘n militêre basis in Rusland, en nie om teen Oekraïne te veg nie, alhoewel daar verslae is van dienspligtiges wat na die oorlogsfront gestuur is. Rusland se jaarliks oproepveldtogte is nie verwant aan mobilisering nie, waartydens Russiese mans vir oorlogsituasies opgeroep word.
# Rugby: Argentinië het die dienste van Tomas Albornoz en Gonzalo Garcia verloor vir Saterdag se laaste Rugbykampioenskapstoets teen die Springbokke op Twickenham. Hulle word vervang deur Gonzalo Bertranou en Nicolas Roger. Albei spanne het uit Durban na Engeland vertrek na die Springbokke se oorwinning van 67-30 die afgelope naweek. Los Pumas kan na die nederlaag nie meer die kompetisie wen nie, maar die Bokke, die All Blacks en die Wallabies het nog ‘n kans om te wen. Nieu-Seeland en Australië speel vroeër Saterdag teen mekaar in Perth.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-333-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-828-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Imran Hamdulay se debuutrolprent, The Heart is a Muscle, is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die kategorie Beste Internasionale Speelfilm by die 98ste Oscar-toekenningsaand. Die film ondersoek die bande tussen vaders en seuns en put uit ervarings spesifiek uit die Kaapse Vlakte. Die rolverdeling sluit in Keenan Arrison, Melissa De Vries en Loren Loubser. Die rolprent se première was vanjaar in die Panorama-afdeling van Berlyn en het die Ekumeniese Jurieprys gewen. Die Oscars vind op 15 Maart 2026 plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….