Nuus 06:00
BULLETIN 22 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal ‘n agenda vir ‘n meer billike wêreldorde by die VN se Algemene Vergadering bevorder
# Fikile Mbalula doen ’n beroep dat die Madlanga-kommissie gerespekteer word
# En atletiek: Span SA wen brons in die mans 4x400m-aflos in Tokio
# President Cyril Ramaphosa lei hierdie week ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 80ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York. Die sitting sal gehou word onder die tema, “Beter Saam: 80 Jaar en Meer vir Vrede, Ontwikkeling en Menseregte“. Die land se afvaardiging sal verskeie vergaderings bywoon, insluitend dié oor handel en beleggings, sowel as besprekings oor die tweestaat-oplossing vir Israel-Palestina. Die Presidensie sê Ramaphosa sal hierdie kritieke platform gebruik om ‘n progressiewe agenda vir ‘n meer regverdige, vreedsame en billike wêreldorde te bevorder.
# Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het Suid-Afrikaners versoek om die Madlanga-kommissie te respekteer. Mbalula het beklemtoon dat getuies ernstig opgeneem moet word en gewaarsku dat leuens onder eed regsgevolge inhou. Hy sê die handhawing van die oppergesag van die reg is die hoeksteen van demokrasie. Hy het burgers aangespoor om die verrigtinge te volg en natuurlike geregtigheid te laat verloop voor gevolgtrekkings:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die Raad vir die Ontwikkeling van die Konstruksiebedryf se swartlys van 40 kontrakteurs sedert Junie 2024 verwelkom, vergeleke met slegs een sedert 2002. Macpherson sê die stap steun sy onderneming om teen korrupsie en swak prestasie op te tree en te verseker dat belastinggeld gehalte-infrastruktuur lewer. Die minister sê die departement verfyn prosesse om maatskappye vinniger op die swartlys te plaas, fondse te verhaal en aanspreeklikheid af te dwing vir werkskeppende ekonomiese groei:
# Die DA in Gauteng het die besluit van die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Faith Mazibuko, om voedselbanke te sentraliseer, veroordeel en sê dit het daartoe gelei het dat kinders ly en aan wanvoeding sterf. Die DA se woordvoerder vir Maatskaplike Ontwikkeling in Gauteng, Refiloe Nt’sekhe, sê byna tweeduisend-900 hospitaalgevalle en meer as vyfduisend-600 kliniekgevalle van kinderwanvoeding is verlede jaar aangeteken. Nt’sekhe beskuldig Mazibuko dat sy toelaat dat kos vrot terwyl kinders verhonger. Sy vra vir gedesentraliseerde verspreiding deur organisasies sonder winsbejag:
# Amnestie Internasionaal sê die geskiedenis sal die VSA nie vergewe oor hul standpunt teen die internasionale gemeenskap, en Israel in sy sogenaamde volksmoord teen die Palestyne in Gaza versterk nie. Dit volg nadat die VSA verlede week vir die sesde keer ‘n konsepresolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad geveto het. Die resolusie het ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza en die vrylating van alle gyselaars geëis. Amnestie Internasionaal sê deur voort te gaan om Israel te steun en te bewapen, loop die VSA die risiko van medepligtigheid aan oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord.
# Atletiek: Suid-Afrika het ‘n bronsmedalje in die mans 4×400-meter-aflos op die laaste dag van die Wêreldatletiekkampioenskap in Tokio verower. Botswana het goud gewen en die eerste Afrika-wenners van die byeenkoms geword. Span SA met Lythe Pillay, Udeme Okon, Wayde van Niekerk en Zakithi Nene het ná die VSA klaargemaak. Intussen het die Amerikaner, Melissa Jefferson-Wooden, slegs die tweede vroulike naelloper na Shelly-Ann Fraser-Pryce geword om die naelloop-driekuns te voltooi. Sy het die 100- en 200-meter gewen, en sy was deel van die seëvierende vroue 4×100-meter-span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-285-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-689-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….