Nuus 06:00
BULLETIN 19 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom die begin van die Madlanga- en Khampepe-kommissies
# David Mabuza se dogter gaan hof toe om sy pensioenuitbetaling te stop
# En krieket: Die Proteas en Pakistan pak mekaar in die tweede eendagwedstryd in Lahore
# Die Kabinet het die aanvang van verhore in die Madlanga-kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel verwelkom. Die kommissie ondersoek bewerings deur die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, met hom as die eerste getuie. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Kabinet verwelkom ook die bekendstelling van die Khampepe-kommissie oor Waarheid- en Versoeningsaangeleenthede:
# Wyle oud-adjunkpresident David Mabuza se dogter uit ‘n vorige huwelik het ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Mpumalanga ingedien om sy pensioenfondsuitbetaling aan sy weduwee, Nonhlanhla Mnisi, te keer. Tamara Silinda beweer Mabuza was in ‘n tradisionele verbintenis met haar moeder, Emunah, getroud. Sy wil hê Alexander Forbes moet verhoed word om enige uitbetaling te maak totdat die kwessie van die regmatige begunstigdes afgehandel is. Sy beweer sy is ‘n gedeelte van die 44,7-miljoen-rand verskuldig vir haar lewens- en opvoedingskoste.
# Die Gautengse polisie het bevestig die voorsitter van die Gautengse Nasionale Taxi-alliansie, Thami Moyo, is op die Soweto-snelweg doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê Moyo het bestuur toe hy deur verdagtes in ‘n Toyota-minibustaxi en ‘n Toyota Yaris onderskep is. Skote is afgevuur, en Moyo is op die toneel dood verklaar. Hy doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom:
# Die beleërde menslike-hulpbronbestuurder van Stellenbosch-munisipaliteit, Alexander Kannemeyer, het bedank as waarnemende direkteur van korporatiewe dienste. Hy is vroeër vandeesmaand gekritiseer na ‘n videogreep waarin hy na bewering gesê het dat druk uitgeoefen moet word op kwalifiserende wit werkskandidate totdat hulle uiteindelik bedank. Kannemeyer is steeds die hulpbronbestuurder van die munisipaliteit. DA-woordvoerder, Willie Aucamp, het aan News24 gesê Kannemeyer het deur sy bedanking skorsing gesystap. Hy sê hulle wil steeds hê die saak moet ondersoek word.
# Die Amerikaanse president, Donald Trump het tydens ‘n nuuskonferensie saam met die Britse eerste minister, Sir Keir Starmer, by Chequers gesê Putin het hom werklik in die steek gelaat. Volgens Starmer het Putin die laaste paar dae “sy ware kleure gewys” en sê hulle moet druk op die Russiese president plaas. Trump sê hy is baie teleurgesteld dat hy nog nie die oorlog in Oekraïne kon beëindig nie:
# Krieket: Die vrouespanne van Suid-Afrika en Pakistan keer vandag terug na Lahore vir die tweede eendagwedstryd, nadat die Proteas die eerste ontmoeting met agt paaltjies gewen het. Die gasvroue het ‘n goeie 255 vir vier aangeteken, maar Marizanne Kapp en Tazmin Brits het albei onoorwonne honderdtalle aangeteken en die besoekers gehelp om maklik die teiken te bereik. Die laaste eendagwedstyd word Maandag op dieselfde veld gespeel, waarna die spanne hulle opwarmingswedstryde begin vir die Eendagwêreldbekertoernooi wat die 30ste in Indië en Sri Lanka begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-910-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-638-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….