Nuus 06:00
BULLETIN 15 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC Jeugliga verwerp berigte van interne faksiegevegte
# Die DA onthul die heraanstelling van 57 veroordeelde polisiebeamptes
# En atletiek: Daar is teleurstelling vir Suid-Afrika in die 100m-eindronde by die Wêreldkampioenskap
# Die ANC-jeugliga het berigte van faksiegevegte en ‘n opvolgingstryd binne sy geledere verwerp en dit as vals en ‘n verdigsel bestempel. Volgens City Press was die jeugliga se Nasionale Algemene Raad wat verlede week gehou is, deurspek van vergaderings om ‘n mosie van wantroue teen president Collen Malatji in te dien. Die ANC-jeugliga sê geen opvolgersname is op enige stadium tydens die kongres bespreek nie. Die liga sê die raad het ‘n eenparige besluit geneem om ‘n vroeë nasionale kongres te versoek.
# Die DA het onthul dat 57 polisie-lede wat na dissiplinêre verhore afgedank is vir misdade soos verkragting, moord, bedrog en korrupsie, tussen 2015 en 2025 weer deur die provinsiale of afdelingskommissarisse aangestel is. Nicholas Gotsell van die DA sê die meeste van die afdankingsbevele is met kort skorsings of skriftelike waarskuwings vervang. Hy sê die DA vra vir die dringende voorlegging in die parlement van die Wysigingswetsontwerp op die SAPD:
# Die Men’s Council of South Africa doen ‘n beroep op alle burgerlike organisasies, tradisionele leiers en Suid-Afrikaners om die Konstitusionele Hof se uitspraak oor mans wat vroue se vanne gebruik, te betwis. Die stigter en president van die raad, Fikile Dyantyi, sê die raad vrees dat hierdie uitspraak kan lei tot die erosie van kulturele erfenis en tradisionele waardes:
# Die Gautengse polisiekommissaris Tommy Mthombeni het hulde gebring aan gevalle beamptes wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het en sê hulle het getrou gebly aan hul ampseed. Hy het gister ‘n Provinsiale Herdenkingsdag in Johannesburg toegespreek. Vier beamptes is gedurende die 2024/2025-boekjaar in die provinsie aan diens dood. Kranse is gelê, en die name van die oorlede lede is op die SAPD Gauteng-gedenkmuur gegraveer. Mthombeni sê die herdenking beklemtoon die gevare waarmee polisiebeamptes te kampe het:
# Nepal se pasaangestelde tussentydse eerste minister sê sy sal nie langer as ses maande in die pos wees nie. Sushila Karki sê sy sal mag oorgee aan die nuwe regering wat na die verkiesing op 5 Maart volgende jaar gevorm sal word. Haar aanstelling volg nadat meer as 70 mense dood is tydens anti-korrupsie-betogings wat die Nepalese regering omvergewerp het. Karki het die ampseed afgelê na ‘n ooreenkoms met protesleiers van die sogenaamde “Gen Z”-beweging. Die massabetogings het op 8 September begin en is aangevuur deur ‘n verbod op sosialemedia-platforms.
# Atletiek: Die 24-jarige Oblique Seville het sy Jamaikaanse landgenoot, Kishane Thompson geklop om goud te verower in die mans 100-meter by die Wêreldatletiekkampioenskap in Tokio. Die verdedigende kampioen Noah Lyles van die VSA het die brons gewen. Dit is Jamaika se eerste wêreldnaelooptitel sedert Usain Bolt in 2016. Die Suid-Afrikaanse duo Gift Leotlela en Akani Simbine het onderskeidelik vyfde en sewende geëindig. Die SA-rekordhouer in die vroue 100-meter hekkies, Marione Fourie, is deur na die halfeindronde en die Suid-Afrikaanse kampioen Zakithi Nene en sy landgenoot is deur na die mans 400-meter halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-368-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-638-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….