Nuus 06:00
BULLETIN 12 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika moet minder op buitelandse hulp staatmaak
# Minister Tau onttrek die omstrede konsepwysigings aan die Nasionale Kredietwet
# En die VN-Veiligheidsraad hou ‘n noodsessie oor die Russiese hommeltuie in Pole
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika moet minder afhanklik wees van buitelandse hulp en sy eie kapasiteit inspan om noodsaaklike programme te befonds. Mashatile het in die Nasionale Raad van Provinsies gewaarsku besnoeiings in Amerikaanse befondsing vir MIV- en VIGS-inisiatiewe beklemtoon die gevare rondom oormatige afhanklikheid van buitelandse steun. Hy sê die regering het reeds hulpbronne herprioritiseer en die Nasionale Tesourie betrek om die befondsingsgaping te oorbrug:
Mashatile sê ook swart ekonomiese bemagtiging is nie rassisme nie, maar ‘n instrument om ongeregtighede uit die verlede reg te stel. Mashatile het beklemtoon transformasie beteken om welvaart te deel en diegene wat voorheen benadeel is, te bemagtig. Hy het sê wetgewing moet behoorlik aangewend word om swart entrepreneurs en gemeenskappe op te hef, en het bygevoeg die regering sal nie terugdeins om ekonomiese insluiting te verseker nie.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die omstrede konsepwysigings aan die Nasionale Kredietwet van 2005 teruggetrek. Een van die voorgestelde wysigings het betrekking op hoe ‘n kredietburo kredietinligting van opvoedkundige instellings kan bekom. Die departement sê die minister se besluit is beïnvloed deur die meer as 20-duisend voorleggings wat die voorgestelde regulasies teenstaan. Hy sê die minister is daartoe verbind om die veranderinge wat nodig is om studente te beskerm, te oorweeg.
# MoAfrika Wa Maila, die prokureur van veroordeelde moordenaar, Thabo Bester, sê Netflix moenie toegelaat word om Suid-Afrikaanse regte met sy komende dokumentêr te skend nie. Dit volg nadat Bester en sy voormalige vriendin, Nandipha Magudumana by die hof aansoek gedoen het om die uitsending te keer van die dokumentêr, Beauty and the Bester, wat vir vandag geskeduleer is. Wa Maila het aan die hof gesê die uitsending kan Bester se voortgesette hofsaak benadeel. Hy glo die vrystelling van die program sal die kliënt se reputasie skend:
# Die VN se Veiligheidsraad het aangekondig dat hy vandag ‘n noodvergadering hou om oortredings van die lugvaartwette in Pole te bespreek, ‘n dag nadat Warskou Moskou daarvan beskuldig het dat hy ‘n hommeltuigaanval in sy grondgebied uitgevoer het. Pole sê die voorval was nie toevallig nie. Moskou ontken hy het die land geteiken en sê daar is geen bewyse dat die hommeltuie Russies was nie. Verdwaalde Russiese hommeltuie en missiele het die lugruim van NAVO-lede, insluitend Pole, verskeie kere binnegedring sedert Moskou se inval in Oekraïne in 2022.
# Rugby: Die groter Stormers-groep begin hulle voorseisoen-kamp vandag met ‘n vriendskaplike wedstryd teen die Haaie in George. Die span kom ses-uur vanaand op Outenikwa-park teen die Durbaniete te staan. Die groep van 28 sal die grootste deel van die week in die Suid-Kaap deurbring voor die fokus verskuif na hulle eerste Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met die verdedigende kampioen, Leinster, in Kaapstad op Vrydag 26 September.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-381-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-633-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….