Nuus 06:00
BULLETIN 11 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies sê die regering gaan voort met ekonomiese en fiskale hervormings
# Minister de Lille sê die toerismesektor is ryp vir beleggings
# En rugby: Duane Vermeulen het vertroue in die jong agterry vir die Wellington-toets
# Die adjunkminister van Finansies, David Masondo, sê die regering gaan voort om ekonomiese en fiskale hervormings, soos skuldvolhoubaarheid, na te streef om Suid-Afrika se ekonomie op ‘n volhoubare grondslag te plaas. In 2025/2026 word verwag dat staatskuld sal bestendig op 77,4-persent van die bruto binnelandse produk. Masondo sê namate skulddienskoste daal, kan sommige van die besparings gebruik word om fiskale buffers te bou en in produktiewe infrastruktuur te belê. Hy sê infrastruktuurverbeterings het die potensiaal om die koste van sake doen te verminder en is dus positief vir ekonomiese groei.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika is gereed vir infrastruktuurprojekte. Sy het tydens die bekendstelling van die Toerismebeleggingsberaad in Kaapstad genoem plaaslike nuwe ondernemings het tussen 2019 en 2024 meer as 682-miljoen-rand in waagkapitaal gelok, meer as die helfte van Afrika se algehele toerisme-oplossings. De Lille het haarself tot vordering verbind met agt aangekondigde projekte:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola vra vir ‘n verenigde front teen bendegeweld by Wes-Kaapse brandpunte. Die provinsie word geteister deur ‘n reeks skietvoorvalle, insluitend insidente by hofgeboue. Masemola het in Kraaifontein gewaarsku dat die polisie nie misdadige bedrywighede sal duld nie en sal voortgaan om die oppergesag van die staat te handhaaf. Hy vra dat gemeenskappe moet aanhou om saam met die polisie te werk om misdaad uit te roei en veiligheid te herstel:
# Die hoëprofielsaak van adjunkpresident Paul Mashatile se agt BBP-beskermingsbeamptes is vandag weer in die Randburg Streekhof in Gauteng. Die beamptes bekend as die Blouligmafia word aangekla van aanranding en opsetlike saakbeskadiging nadat ‘n video uit 2023 gewys het hoe hulle motoriste op die N1-snelweg aanval. Die verdediging sal ‘n Artikel 174-aansoek aanvoer om aanklagte te laat vaar weens onvoldoende bewyse. Juanita du Preez van Action Society veroordeel die stap as ‘n vertragingstaktiek:
# Ursula von der Leyen sê sy sal sanksies en ‘n gedeeltelike handelsopskorting teen Israel aanvra weens sy oorlog in Gaza. Die president van die Europese Kommissie het in die Europese Parlement gesê wat in Gaza gebeur, skud die hele wêreld se gewete. Sy beplan om die steun aan Israel deur die EU se uitvoerende gesag te vries, wat nie die goedkeuring van lidlande benodig nie. Die 27 nasies is verdeeld oor die Gaza-konflik en dit is onduidelik of ‘n meerderheid gevind sal word om die sanksies en handelsmaatreëls te onderskryf.
# Rugby: Springbok-hulpafrigter Duane Vermeulen het baie vertroue in die jong agterlyn vir Saterdag se tweede Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington. Hy wil graag sien wat die jong, opwindende spelers kan uitrig na verlede week se nederlaag in Auckland. Vermeulen glo dis die perfekte geleentheid vir die afrigters om te sien hoe die onervare spelers onder druk vertoon terwyl daar gebou word vir 2027 se Wêreldbekertoernooi. Hy glo die voorspelers sal die agterspelers goed ondersteun met skoon balle om mee aan te val.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-937-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-641-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….