Nuus 06:00
BULLETIN 10 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die nasionale konvensie het Suid-Afrika se breë diversiteit weerspieël
# Nasionale adjunkpolisiekommissaris Sibiya verloor sy poging om terug te keer werk toe
# En Katar sê die Israelse aanval in Doha is ‘n blatante skending van internasionale wette
# President Cyril Ramaphosa het aan die Parlement gesê die eerste nasionale konvensie weerspieël die breë diversiteit van Suid-Afrika en baan die weg vir die nasionale dialoog. Ramaphosa het in sy antwoord op mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering verklaar dat afgevaardigdes nege sleuteltemas vir ‘n nasionale dialoog onderskryf het, insluitend werksgeleenthede, misdaad, korrupsie, onderwys, geslagsgelykheid en omgewingsgeregtigheid. Hy voeg by die dialoog is daarop gemik om ‘n maatskaplike ooreenkoms te lewer om armoede, werkloosheid en staatskapasiteit aan te pak:
Ramaphosa het ook die rol van adjunkministers verdedig, ten spyte van kritiek oor die hoë koste vir belastingbetalers. Hy het in die parlement gesê adjunkministers voeg steeds waarde by die regering se bedrywighede. Athol Trollip van ActionSA voer aan dat 42 adjunkministers verkwistende uitgawes is en op begunstiging neerkom. Ramaphosa het erken dat hy ‘n kleiner uitvoerende gesag verkies, maar sê om die regering van nasionale eenheid te akkommodeer, word ‘n breër kabinet vereis:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die aansoek van die nasionale adjunkpolisiekommissaris Shadrack Sibiya om die besluit om hom op verlof te plaas, te hersien en tersyde te stel, met koste van die hand gewys. Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het Sibiya in Julie op verlof geplaas na aanleiding van korrupsiebewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi, wat hom van misdadige optrede beskuldig het. Sibiya het ‘n dringende aansoek ingedien wat Masemola se bevel, wat hy ‘n vermomde skorsing genoem het, betwis. Sibiya se prokureur, Ian Levitt, sê dit is nie die einde nie.
# Die Gautengse Departement van Onderwys het bevestig dat ‘n graad 8-leerder van die Qalabotjha Secondary School in Vlakfontein, Johannesburg-suid, gisteroggend by die skool inmekaar gesak het en later dood verklaar is. Steve Mabona van die departement, sê sielkundige ondersteuning sal by die skool ontplooi word om leerders, personeel en die bedroefde familie by te staan. Mabona sê LUR Matome Chiloane het sy meegevoel aan familie en vriende oorgedra:
# Katar het Israel se aanval op senior Hamas-leiers in die hoofstad Doha veroordeel. Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy het opdrag gegee vir die aanval na onlangse aanvalle in Jerusalem en Gaza. Hy sê dit was heeltemal geregverdig. Katar, wat by onderhandelinge tussen Israel en Hamas betrokke was, het die aanval ‘n blatante skending van internasionale reg genoem. Hy sê hy sal nie Israel se roekelose gedrag en die voortdurende ontwrigting van streeksekuriteit, of enige daad wat sy veiligheid en soewereiniteit teiken, duld nie.
# Rugby: Die voormalige kaptein, Richie MacCaw, het die All Blacks gemotiveer voor Saterdag se Rugbykampioenskaps-herontmoeting met die Springbokke in Wellington. Die gasheer sê hy wil sy spelpeil verhoog na verlede naweek se oorwinning. Nieu-Seeland is steeds onoorwonne op Edenpark sedert 1994 nadat hulle Suid-Afrika 24-17 geklop het. Die senter Quinn Tupaea, wat die wendrie gedruk het, sê MacCaw se teenwoordigheid het die spelers besiel aangesien hulle verwag die besoekers gaan hoogs gemotiveerd wees om sake om te keer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-521-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-633-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….