Nuus 06:00
BULLETIN 5 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola doen ‘n beroep op mineraalveredeling om groei te bevorder
# Die afgedankte SA Toerisme-raadslede dien ‘n dringende hofaansoek in
# En die legendariese Italiaanse modeontwerper Giorgio Armani is oorlede
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, sê die veredeling en waardetoevoeging van kritieke minerale moet ‘n meer volhoubare en inklusiewe groeimodel ondersteun. Lamola het tydens die B20-beraad in Sandton beklemtoon Suid-Afrika kan nie meer op ontginningskettings uit die verlede staatmaak nie. Hy het plaaslike beleggings en tegnologie-oordrag aangemoedig om werk te skep, ekonomieë te versterk en te verseker Afrika bly nie agter in wêreldwye voorsieningskettings nie:
# Die SA Toerisme-raadslede wat ontslaan is het ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die besluit van die minister van Toerisme, Patricia de Lille om die raad te ontbind, tersyde te stel. Die minister het haar besluit verdedig en onwettige gedrag, prosedurele oortredings en roekelose finansiële bestuur as gronde aangevoer. In hul hofstukke voer die afgedankte raadslede aan dat die minister se optrede goeie bestuur, verantwoordbaarheid en die onafhanklikheid van statutêre rade ondermyn. Hulle sê die huidige dooiepunt bedreig bestendigheid by SA Toerisme.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik verwelkom die Stad Johannesburg se besluit om sy omstrede verordening op privaat kringtelevisiestelsels te heroorweeg. Die verordening sou eienaars van eiendomme met privaat kameras gedwing het om jaarlikse fooie te betaal en toegang tot beeldmateriaal te verskaf. Die organisasie en die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging het regstappe gedoen en aangevoer die wet skend inwoners se regte. OUTA se woordvoerder, Stefanie Fick, vra die stad om eerder te fokus op die herstel van dienste soos water en slaggate en nie onnodige fooie te hef nie:
# Die DA in die Wes-Kaap dring aan op dringende optrede terwyl kindermoorde steeds toeneem in die provinsie. Volgens die party het 557 kinders tussen 2022 en verlede jaar hul lewens verloor weens geweldsmisdaad, met 197 wat net verlede jaar vermoor is. Gebiede wat die hardste getref word, sluit in Kraaifontein, Philippi-Oos, Delft, Nyanga en Mfuleni. Wendy Kaizer-Philander van die DA bepleit sterker wetstoepassing, verbeterde maatskaplike dienste, voorkoming van bende-bedrywighede en ‘n doeltreffender regstelsel om kinders te beskerm:
# Rugby: Die Springbokke en die All Blacks het Wêreldrugby se versoek verwerp vir meer kontrasterende uitrustings in môre se verwagte rillerstryd in Auckland en verkies om in hulle tradisionele kleure te speel. Dit word beskou as respek vir ‘n jarelange tradisie, met die Bokke in hulle ikoniese Groen-en-Goud en die gashere in hul handelsmerk-swart uitrustings. Nie een van die spanne het in hul tweestryd van 104 jaar hiervan afgewyk nie, maar dit kan moontlik bedreig word deur die beheerliggaam se uitrusting-beleid om sake vir kleurblinde toeskouers te vergemaklik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-357-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-542-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: Die Italiaanse modeontwerper Giorgio Armani is op 91-jarige ouderdom oorlede. Hy het in 1975 saam met sy vennoot Sergio Galeotti die luukse modehuis wat sy naam gedra het, gestig. Armani is as ‘n pionier beskou wat rooitapytmode verhef het tot wat dit vandag is. Die Armani-groep het hom as ‘n begeesterde dryfkrag beskryf. Die Italiaanse premier Giorgia Meloni het hulde gebring aan Armani en gesê hy kon met sy elegansie, nugterheid en kreatiwiteit glans aan Italiaanse mode bring en die hele wêreld inspireer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….