Nuus 06:00
BULLETIN 4 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verklaar oorlog teen politici se eksklusiewe mediese fondse
# Die ANC veroordeel die uitlek van sy Limpopo-voorsitter se opsystaan-brief
# En krieket: Die Proteas is terug op Lord’s om die eendagreeks teen Engeland te beklink
# ActionSA sê sy voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Parlementêre en Provinsiale Mediese Fondse sal die vryheid van keuse vir politici herstel en verseker dat hulle dieselfde realiteite as burgers ervaar, insluitend afhanklikheid van openbare gesondheidsorg. Die party beplan om die wetsontwerp in die Parlement ter tafel te lê om die verpligte lidmaatskap van die eksklusiewe mediese fonds vir lede van die Parlement en regters te beëindig. Matthew George van ActionSA sê die stap sal billikheid, verantwoordbaarheid en aansporings bevorder om die openbare gesondheidsorgstelsel te verbeter:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, se regsverteenwoordiger het beskuldigings verwerp dat die kommissaris in die saak teen sy adjunk, Shadrack Sibiya, as regter, jurie, en laksman optree. Stefan Coetzee het in die Hooggeregshof in Pretoria aangevoer dat ‘n onpartydige arbiter aangestel is om die saak te behartig. Hy sê aannames dat Masemola die proses vir persoonlike redes gekaap het, is ongegrond, aangesien dit sy plig is om orde en dissipline te handhaaf:
# Die Gautengse regering het die bekendstelling verwelkom van ‘n toegewese taakspan vir politieke moorde wat deur die nasionale polisiekommissaris Fanni Masemola aangekondig is. Die spesialis-eenheid, wat binne die volgende maand met sy werk gaan begin, sal hoëprofiel- en polities-sensitiewe sake ondersoek om geweldpleging in die provinsie te voorkom. Premier Panyaza Lesufi sê beplanning is aan die gang om die span se opdragte, bronne en personeel te finaliseer vir doeltreffende optrede:
# Die ANC het die uitlek van sy Limpopo-voorsitter Stan Mathabatha se opsystaan-brief veroordeel. In ‘n brief aan die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula het hy sy besluit om vrywillig te bedank bekendgemaak en wangedrag en ‘n gebrek aan waardes in die ANC as redes aangevoer. Hy sê dit is veral duidelik in die prosesse en gedrag van partylede tydens verkiesingskonferensies in die Vhembe- en Waterberg-streke. Die ANC sê Mathabatha se brief is ontvang, maar waarsku lede om interne kommunikasieprosesse en protokolle te volg.
# Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, hoop om vandag met sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, te praat en aan te dring op nuwe sanksies teen Rusland oor die inval in sy land. Hy het met die media gepraat tydens sy besoek aan die Deense hoofstad, Kopenhagen, om bykomende steun vir Kiëf deur Nordiese en Baltiese lande te bespreek. Zelensky sê daar is reeds ‘n stewige grondslag vir veiligheidswaarborge vir Oekraïne in die geval van ‘n wapenstilstand, en verwys na bilaterale ooreenkomste, insluitend een met Denemarke.
# Krieket: Die Proteas keer terug na die speelveld van hulle onlangse triomf in die Wêreldtoetskampioenskap wanneer hulle vandag op Lord’s teen Engeland in die tweede eendagwedstryd te staan kom. Suid-Afrika kan die reeks van drie kragmetings vandag beklink na Dinsdag se oortuigende oorwinning op Headingley. Keshav Maharaj en Wiaan Mulder het die gasheer help uitboender vir net 131, waarna Aiden Markram die Protea-aanslag gelei en die wenteiken bereik het met slegs drie paaltjies plat. Die laaste eendag-kragmeting word Sondag in Southampton gespeel, gevolg deur drie T20s.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-943-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-559-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….