Nuus 06:00
BULLETIN 3 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister De Lille ontken dat sy die uitvoerende hoof van SA Toerisme beskerm
# ‘n Regter sê die Trump-administrasie se gebruik van die weermag in Los Angeles het federale wetgewing oortree
# En krieket: Suid-Afrika klop Engeland met sewe paaltjies in hul eerste eendagwedstryd
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het bewerings verwerp dat sy nie opgetree het teen onreëlmatighede by Suid-Afrikaanse Toerisme nie. De Lille het in die Parlement gereageer op vrae oor die ontbinding van die raad en ontken bespiegelings dat sy dissiplinêre stappe teen die uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe, geblok het. Sy sê mediaberigte het haar onregverdig uitgebeeld en dring aan dat sy feite verskaf aan die komitee. Sy hou vol sy het die behoorlike proses gevolg en binne die wet opgetree:
Die DA sê intussen De Lille se besluit om die SA Toerismeraad te ontbind, was ‘n blatante magsmisbruik wat ontwerp is om haar bondgenoot, Guliwe, teen aanspreeklikheid te beskerm. Die minister het haar besluit verdedig en onwettige gedrag, prosedurele oortredings en roekelose finansiële bestuur as gronde vir die ingryping gestel. Haseena Ismail van die DA sê as De Lille nie ‘n volledige en eerlike weergawe van haar optrede kan gee nie, is sy nie geskik om in die amp te bly nie:
# Die energiereguleerder Nersa het belanghebbendes versoek om deel te neem aan ‘n openbare sitting oor die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika se aansoek om ‘n markoperateurslisensie. Die reguleerder sê die lisensie is ‘n kritieke stap in die rigting van die skep van ‘n mededingende elektrisiteitsmark in Suid-Afrika. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die sitting sal op 30 September virtueel en regstreeks aanlyn plaasvind, wat belanghebbendes die kans gee om mondelinge voorleggings te doen voor ‘n finale besluit geneem word.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, vra vir kalmte na leerder-protesoptrede by die Tiyelelani Secondary School en nabygeleë skole in Soshanguve. Die onrus is veroorsaak deur bewerings van seksuele wangedrag waarby ‘n onderwyser en ‘n busbestuurder betrokke was, en beweer die skoolhoof het versuim om op te tree. Een leerder is beseer. Steve Mabona van die departement het die gemeenskap versoek om onderrig en leer sonder ontwrigting te laat voortgaan:
# ‘n Federale regter het beslis dat president Donald Trump en die minister van Verdediging, Pete Hegseth, federale wetgewing oortree het deur die Amerikaanse Weermag te gebruik vir wetstoepassing in en om Los Angeles. Distriksregter Charles Breyer het beslis dat die optrede strydig is met die sogenaamde Posse Comitatus-wet uit die 19de eeu wat oor die algemeen die gebruik van soldate vir binnelandse wetstoepassings-doeleindes verbied. Dit volg terwyl Trump oorweeg of hy lede van die Nasionale Wag na ander stede moet stuur, insluitend in Kalifornië en Illinois.
# Krieket: Suid-Afrika het Engeland met sewe paaltjies geklop op Headingley in Leeds om ‘n 1-0 voorsprong te neem in hul eendagreeks van drie wedstryde. Keshav Maharaj het vier paaltjies geneem en Wiaan Mulder drie, toe die tuisspan vir slegs 131 in 24,3 boulbeurte uitgeboul is. In antwoord hierop het Aiden Markram 86 van slegs 55 balle aangeteken en ‘n openingsbeurt van 121 met Ryan Rickelton gedeel. Die Proteas het met 29,1 boulbeurte oor gewen. Die tweede eendagwedstryd word môre op Lord’s gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-58-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-527-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….