Nuus 06:00
BULLETIN 24 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is geen bekende vulstasies onder dié wat na bewering besmette brandstof verkoop nie
# Minister Blade Nzimande vra dat onbetaalde NSFAS-studente toegelaat word om te registreer
# En, Oppenheimer kry die meeste Oscar-benoemings met 13 gevolg deur Poor Things
# Die Departement van Minerale Bronne en Energie het verduidelik daar is geen bekende vulstasies onder dié wat na bewering besmette brandstof verkoop nie. Die departement het onlangs onthul 70 vulstasies in die land word ondersoek omdat hulle diesel gemeng met lampolie verkoop, met meer as een-duisend-en-70 monsters wat getoets is. Daar is ook bevind dat sommige van die vulstasies sonder lisensie bedryf word. Die department se woordvoerder, Robert Maake, het aan SABC News gesê motoriste moet waaksaam wees:
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, het ‘n beroep op die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente gedoen om verlede jaar se uitstaande betalings af te handel. Hy het instellings verder versoek om studente wat geraak word, die geleentheid te gun om vir die 2024 akademiese jaar te registreer. Nzimande het op ‘n nuuskonferensie ‘n beroep op NSFAS gedoen om ‘n gladde proses te verseker en om in die toekoms sodanige uitdagings te vermy:
# Die pasverkose Tshwane-onderburgemeester Nasiphi Moya sê sy sal saamwerk met enige ondersoek na haar beweerde finansiële wangedrag. Moya het tydens haar ampstermyn as personeelhoof in die kantoor van die Tshwane-burgemeester in 2020 ‘n toelaag van tien-duisend-rand ontvang vir ‘n amptelike reis na Saoedi-Arabië. Sy het egter nie gegaan nie maar ook nie die geld teruggegee nie. Moya sê sy het daarvan vergeet, maar daar was geen kwade bedoeling nie, en bloot haar oordeel wat haar in die steek gelaat het. Die raad het die stadsbestuurder opdrag gegee om die saak te ondersoek.
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het aan die raad voorgestel die direkteur van Stedelike Afvalbestuur, Luzuko Mdunyelwa, moet geskors word. Dit volg te midde van bewerings oor omkopery in die stad se administrasie- en vullisverwyderingsdienste. Die raad het kommer uitgespreek oor die besteding van ongeveer 500-miljoen-rand aan kontrakteurs vir die verwydering van township-afval tussen Julie 2021 en Junie 2023. Daar is boonop 18-duisend-902 klagtes aangeteken. Intussen het afpersing in gemeenskappe veroorsaak dat kontrakteurs onttrek weens veiligheidskwessies. Hill-Lewis erken daar is ‘n behoefte aan verbeterde waarde in afvalbestuursbesteding.
#Rugby: Die Springbokke Deon Fourie, Damian Willemse en Manie Libbok sal nie beskikbaar wees wanneer die Stormers op die 17de van volgende maand in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Haaie speel nie. Die span van Kaapstad het ‘n onderbreking van drie weke voor die hervatting van hulle VRK-veldtog, nadat hulle vir die ronde van 16 in die Kampioenebeker gekwalifiseer het. Hulle kom in April in Kaapstad teen die verdedigende kampioen, La Rochelle, te staan. Die internasionale spelers is op ʼn verpligte ruskans van vyf weke, insluitend drie weke weg van die spel en twee weke se oefening.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-938-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-28-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte, Christopher Nolan se atoom-biorolprent Oppenheimer het 13 Oscar-benoemings ontvang, ondermeer as beste rolprent en beste akteur in ‘n hoofrol vir Cillian Murphy. Die fantasiefilm Poor Things het elf benoemings ontvang, met tien vir Martin Scorsese se drama Killers of the Flower Moon. Barbie is vir agt toekennings genomineer. Lily Gladstone is benoem as beste aktrise in ‘n hoofrol vir Killers of the Flower Moon, en is die eerste inheemse Amerikaanse aktrise ooit wat vir hierdie toekenning oorweeg sal word. Die Oscars vind op die tiende Maart plaas, en word deur Jimmy Kimmel aangebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….