Nuus 06:00
BULLETIN 29 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontvang die afsluitingsverslag van die Nasionale Teen-korrupsie Adviesraad
# Kommissaris Masemola dring aan op eenheid teen transnasionale misdaad
# En rugby: Die Haaie maak ses veranderinge aan sy beginspan teen die Boland Kavaliers
# President Cyril Ramaphosa sê die aanbevelings wat in die afsluitingsverslag van die Nasionale Teen-korrupsie Adviesraad gemaak is, moet deeglik hersien word en, waar toepaslik, sonder versuim toegepas word. Die president het gister ‘n vergadering van die raad gelei, waar hy die verslag ontvang het. Die aanbevelings sluit in die stigting van ‘n permanente, onafhanklike, oorkoepelende teen-korrupsieliggaam en die gebruik van Kunsmatige Intelligensie om korrupsie te voorkom. Ramaphosa sê die aanbevelings sal, as ‘n prioriteit, die aandag van die Nasionale Uitvoerende Gesag en die betrokke instellings geniet.
# Die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola, sê oorgrensmisdaad is besig om toe te neem en hy doen ‘n beroep vir groter samewerking deur Interpol. Masemola het by die Interpol Afrika-streekkonferensie in Kaapstad die behoefte vir Afrikastate benadruk om saam te staan, beginnende by die SAOG. Afgevaardiges het benadruk dat dwelmvervaardigers en verspreiders geteiken moet word eerder as die koeriers. Masemola het ook die kuberruimte as ‘n toenemende misdaadfront uitgewys en doen ‘n beroep vir strategieë om internasionale sindikate by hulle bronne aan bande te lê:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik het bevestig dat hulle hul regstappe in die Hooggeregshof in Johannesburg sal voortsit om die voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburg Property Company, Helen Botes, as ‘n onbevoegde direkteur te laat verklaar. Botes beplan om die aansoek te verdedig, wat poog om te verhoed dat sy in die toekoms enige direkteurskap beklee. Stefanie Fick van OUTA glo dat die maatskappy se mislukking gelei het tot die brand by die Usindiso-gebou, wat minstens 76 lewens in Augustus 2023 geëis het:
# Terwyl die Amerikaanse president Donald Trump sukkel om ‘n ooreenkoms met die Russiese president, Vladimir Putin, te bereik om die oorlog in Oekraïne te beëindig, maak China se leier Xi Jinping gereed om Putin en Kim Jong Un van Noord-Korea in Beijing te ontvang. Die Chinese leier wil Beijing se mag op die internasionale verhoog vertoon, nie net as die wêreld se tweede grootste ekonomie nie, maar ook as ‘n diplomatieke swaargewig. Hy het China se rol as ‘n stabiele handelsvennoot beklemtoon en glo sy invloed op beide Kim en Putin kan deurslaggewend wees vir enige ooreenkoms.
# Rugby: Die Haaie het ses veranderinge aan hul beginspan aangebring vir Saterdag se voorlaaste groepronde van die Curriebeker teen die Boland Kavaliers in Pietermaritzburg. Die gashere is optimisties na ‘n bonuspuntoorwinning teen die Westelike Provinsie verlede week. Siya Masuku maak sy eerste verskyning in die toernooi vanjaar as losskakel, Paschal Ekeji speel op vleuel, terwyl Albie Bester op binnesenter inkom. Onder die voorspelers is Jacques Marais op haker en Jannes Potgieter op flank, terwyl Mawande Mdanda die nuwe vaskopstut is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-502-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-415-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika gaan saam met die res van Afrika Bewustheidsdag vir Tradisionele Medisyne in Rustenburg, Noordwes, vier om die belangrike rol van inheemse praktyke in gesondheidsorg beklemtoon. Meer as 80-persent van mense wêreldwyd, veral in ontwikkelende streke, maak staat op tradisionele medisyne. ‘n Nasionale Gesondheidswoordvoerder, Foster Mohale, sê die dag vra vir nouer samewerking om navorsing, ontwikkeling en plaaslike produksie te bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….