Nuus 06:00
BULLETIN 22 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die SA-Japan-vennootskap is veerkragtig
# BOSA striem die binnegevegte in die regering van nasionale eenheid
# En die ATM kritiseer die Openbare Beskermer oor die vertraging van die Senzo Mchunu-ondersoek
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika en Japan kan gesamentlik globale stelsels steun wat billike handel, volhoubare beleggings en waardekettingintegrasie ondersteun. Hy het die Suid-Afrika-Japan Sakeforum toegespreek tydens die Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika Ontwikkelingsberaad. Meer as 270 Japannese maatskappye het ‘n belangrike teenwoordigheid in Suid-Afrika se ekonomie en onderhou meer as 200-duisend plaaslike werksgeleenthede. Ramaphosa sê dit is gepas om nou die langdurige ekonomiese verhouding tussen die twee lande te versterk.
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, kritiseer die binnegevegte in die regering van nasionale eenheid en sê Suid-Afrikaners betaal die prys vir politieke geskille. Hy voer aan die aanhoudende meningsverskille tussen RNE-vennote het die vordering met belangrike kwessies tot stilstand gebring en burgers worstel met swak dienslewering, werkloosheid en swak regering. Maimane vra nuwe idees, vars leierskap en ‘n fokus op die lewering van tasbare uitslae vir die land, nie die voortgesette politieke gekibbel nie:
# Die African Transformation Movement het die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, gekritiseer oor vertragings in die ondersoek na die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu. ATM se leier in die Parlement, Vuyo Zungula, het Mchunu beskuldig dat hy 121 sensitiewe sake geblok en die taakspan vir politieke moorde ontbind het. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het ook bewerings van korrupsie en politieke inmenging gemaak. Die ATM waarsku al is ‘n ondersoek bevestig, ondermyn vertragings nasionale veiligheid. President Cyril Ramaphosa het sedertdien die Madlanga-kommissie met afgetrede regter, Mbuyiseli Madlanga aan die spits, tot stand gebring om die saak te ondersoek.
# Die DA doen ‘n beroep op die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, om die LUR van Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko af te dank nadat die Hooggeregshof sy beslissing oor die provinsie se agterstand in kankerbehandeling afgedwing het. ‘n Regter van die Hooggeregshof in Gauteng, Evette Dippenaar, het verwys na onherroeplike skade wat aangerig is met pasiënte wat sterf terwyl hulle vir bestraling wag, terwyl ander nie meer vir behandeling kwalifiseer nie. Dippenaar het bevind dat die departement se mislukking ongeoorloof en ongrondwetlik is. Jack Bloom van die DA beskuldig die department van vertragingstaktiek wat lewens in gevaar stel:
# Rusland se minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, sê enige veiligheidswaarborge vir Oekraïne sal Moskou en sy grootste bondgenoot, China, asook die VSA, Brittanje en Frankryk moet insluit. Ná die onlangse Trump-Putin-beraad in Alaska, het Amerikaanse amptenare gesê die Russiese president het die vooruitsig van Westerse veiligheidswaarborge vir Oekraïne aanvaar. Frankryk, Brittanje en Estland het aangedui dat hulle troepe na ‘n na-oorlogse Oekraïne kan stuur. Lavrov sê pogings om kwessies van kollektiewe veiligheid sonder Rusland op te los, sal nie werk nie.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse draaibouler Keshav Maharaj is terug boaan die wêreldranglys vir mans-eendagboulers na sy skitterspel in Dinsdag se eerste wedstryd teen Australië in Cairns. Hy het sy eerste vyfpaaltjie-oes ingesamel en die Proteas gehelp om die gasheer met 98 lopies te klop. Die 35-jarige Maharaj het Kuldeep Yadav van Indië en Maheesh Theekshana van Sri Lanka verbygesteek om die eerste keer sedert einde 2023 bo-aan die lys te wees. Aiden Markram op 21ste is die Protea se beste eendag-kolwer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-449-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….