Nuus 06:00
BULLETIN 15 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regterlike ondersoek sal die integriteit van die polisie beskerm
# Die DA wil antwoorde hê oor Mcebisi Jonas se rol
# En krieket: Die Proteas klop Zimbabwe in hul T20-driehoekige openingswedstryd
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is vasbeslote om te verseker dat die herbou van wetstoepassingsagentskappe en sekerheidsdienste, nie in die gedrang kom nie. In sy weeklikse nuusbrief gee hy die redes waarom hy ‘n kommissie van ondersoek ingestel het om bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te ondersoek. Ramaphosa sê dit is nodig om die feite vas te stel deur ‘n onafhanklike, geloofwaardige en deeglike proses. Hy sê die ondersoek bevestig die regering se verbintenis tot die oppergesag van die reg, deursigtigheid en verantwoordbaarheid.
# Die DA sê dis reeds langer as 90 dae sedert die gewese adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas, aangestel is as spesiale gesant na Amerika, maar daar is min teken van vordering terwyl Amerikaanse tariewe sleutel-uitvoerbedrywe bedreig. Emma Louise Powell van die DA sê die party gaan ‘n aansoek indien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om president Cyril Ramaphosa te dwing om bekend te maak waar Jonas is, en opper kommer oor sy sakebelange by MTN:
Die vakbond Solidariteit sê intussen hy is gereed om by ‘n Suid-Afrikaanse taakspan aan te sluit vir dringende onderhandelings oor ‘n handelsooreenkoms met Amerika. Die vakbond sê dit is noodsaaklik om dit voor 1 Augustus te doen wanneer die 30-persent-tarief op plaaslike uitvoere in werking tree. Solidariteit het in ‘n skrywe aan minister Parks Tau beklemtoon politici kan nie alleen die krisis oplos nie. Hy waarsku die versuim om vinnig op te tree kan tot 275-duisend werksgeleenthede kos, wat landbou en voertuigvervaardiging die hardste kan tref.
# Die Suid Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid sê ‘n hersiening in samewerking met geregistreerde kredietburo’s het 210-duisend begunstigdes geïdentifiseer wat versuim het om ander inkomste te verklaar. Die hoof- uitvoerende beampte, Themba Matlou sê dit skend die Wet op Maatskaplike Bystand, wat tot opskortings of beëindigings van voordele kan lei wat moontlik die herwinning van oorbetaalde fondse insluit. Hy sê die hersieningsproses wil verseker dat slegs geldige ontvangers ondersteuning kry, dat openbare fondse beskerm word, en dat die integriteit van die stelsel behoue bly:
# Krieket: Suid-Afrika het met vyf paaltjies oor Zimbabwe geseëvier in hul openingswedstryd van die T20 internasionale driehoekige reeks by die Harare Sportklub. George Linde het drie paaltjies laat val terwyl die gashere beperk is tot 141 vir ses in hul 20 boulbeurte, met kaptein Sikandar Raza wat ‘n onoorwonne 54 aangeteken het. In antwoord het die nuweling Rubin Hermann en Dewald Brevis die kolf laat swaai en onderskeidelik 45 en 41 aangeteken, terwyl die Proteas die teiken bereik het met 25 balle oor. Suid-Afrika kom môre teen Nieu-Seeland te staan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-877-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-344-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Die eerste Connie Chiume Internasionale Jeugfilmfees skop hierdie Mandela-maand in Benoni af en sal die ikoon se nalatenskap vereer deur jeugbemagtiging in die kunste. Die fees, met hulp deur die Nasionale Film- en Videostigting, sal meer as 500 kreatiewe mense huisves, nasionale premières van Uprize! en What Did You Dream?, asook ‘n reeks gedenklesings aanbied. Die Connie Chiume 67 Minute Mentorskaps-uitdaging, wat transformasie, nalatenskap en werklike geleenthede in die kreatiewe ekonomie vier, vind ook plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….