Nuus 06:00
BULLETIN 15 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê die nasionale konvensie sal voortgaan
# Saftu onttrek uit die nasionale dialoog weens ’n gebrek aan deursigtigheid
# En Rusland en Noord-Korea versterk hul bande op die vooraand van Putin se ontmoeting met Trump
# Die Presidensie sê die eerste nasionale konvensie van die Nasionale Dialoog-proses sal vandag en môre voortgaan, ten spyte daarvan dat sommige politieke partye en organisasies hul deelname onttrek het. Die DA, Vryheidsfront Plus, MK-party, die Thabo Mbeki-stigting en die Desmond en Leah Tutu Legacy-stigting is onder diegene wat aan die konvensie onttrek het. Presidensie-woordvoerder Vincent Magwenya het by ‘n media-inligtingsessie gesê die werklikheid is “the show will go on”:
Die vakbondfederasie Saftu sê intussen hy gaan nie deelneem aan die nasionale dialoog nie. Saftu sê die proses word beheer deur die regering, is nie deursigtig nie, en ignoreer die stemme van die werkers en die gemeenskappe. Asive Dyani van Saftu sê hy wil ‘n openlike dialoog hê wat deur die burgers gelei word, wat die werklike maatskaplike en ekonomiese sake bespreek:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het vyf bykomende lede aangestel op die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie se Raadgewende Komitee vir die Hersiening van die Strafregstelsel. Hulle sluit aan by agt lede wat in 2023 aangewys is. Onder die nuwe lede is professor Geert Philip Stevens van die Universiteit van Pretoria, en ‘n lid van die Nasionale Advokate-forum, Charlie Eric Mhlari. Die projek is gemik op die hersiening van die Strafproseswet, ten einde dit in ooreenstemming te bring met die Grondwet, slagoffers voorop te stel en regsprosesse te moderniseer.
# Die UDM het gister se moord op ‘n e-taxi-bestuurder by die Maponya Winkelsentrum in Soweto, veroordeel en beskryf as ‘n aanval op veiligheid en lewensbestaan in die vervoersektor. Yongama Zigebe van die UDM vra dringende regeringsoptrede, asook optrede deur die SAPD en die Gautengse Vervoerdepartement om die voortdurende spanning tussen taxi’s en e-taxi’s op te los. Hy vra ook ‘n veiliger openbare vervoeromgewing:
# ‘n Russiese afvaardiging het in Noord-Korea aangekom kort nadat die lande se leiers beloof het om samewerking te versterk. Die Russiese president, Vladimir Putin, en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, het Dinsdag telefonies gepraat voor Putin se ontmoeting met Donald Trump op ‘n beraad in Alaska, waar die Amerikaanse president gaan probeer om ‘n einde aan die Oekraïnse oorlog te bewerkstellig. Noord-Korea het duisende soldate en wapens na Rusland se Koersk-streek gestuur terwyl betrekkinge tussen Rusland en die Noorde die afgelope jaar verbeter het.
# Rugby: Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, sê hulle hoofdoel op die Wêreldbekertoernooi is om Suid-Afrika trots te maak. Hulle is vol vertroue na die onlangse oortuigende oorwinning oor Nieu-Seeland se Black Ferns-vyftiental. Die Bokke speel in Groep D teen Brasilië, Frankryk en Italië, met die voorste twee spanne wat deurdring na die kwarteindronde. De Bruin sê die toernooi is die grootste geleentheid nog vir die meeste spelers, terwyl onderkaptein Babalwa Latsha glo dit gaan ‘n keerpunt wees in die vrouespel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-469-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-333-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….