Nuus 06:00
BULLETIN 9 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse handelsonderhandelingspan gaan dringend met die VSA in gesprek te tree
# AfriForum gee president Ramaphosa die skuld vir die Trump-tariewe
# En rugby: Die Junior Bokke pak Skotland in die derde ronde van die Onder-20-kampioenskappe
# President Cyril Ramaphosa het die regering se handelsonderhandelingspan opdrag gegee om dringend met die VSA in gesprek te tree op grond van die raamwerkooreenkoms wat Suid-Afrika in Mei aan Amerika voorgelê het. Dit volg nadat die VSA vanaf 1 Augustus ‘n tariefverhoging van 30-persent op alle Suid-Afrikaanse goedere gaan instel. Ramaphosa sê die raamwerkooreenkoms spreek die kwessies aan wat aanvanklik deur die VSA geopper is, insluitend die land se sogenaamde handelsoorskot, onbillike handelspraktyke en ‘n gebrek aan wederkerige optrede deur die VSA.
AfriForum het intussen Ramaphosa en die ANC-geleide regering daarvan beskuldig dat hulle Suid-Afrika in die steek laat. Die groep beskuldig die regering dat hy die grasie-periode van 30-dae vir onderhandelinge verspil en sleutelbelangrike bekommernisse ignoreer het wat die Trump-administrasie uitgewys het. Woordvoerder Ernst van Zyl sê AfriForum het oplossings aangebied, maar die regering het reageer met ontkenning en ongegronde beskuldigings wat die diplomatieke krisis vererger het:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat hy met die gesinsgeweldsaak teen die hoofbestuurder van die Premier Sokkerliga, Andile ‘Ace’ Ncobo, voortgaan ten spyte van die klaer se versoek om die saak terug te trek. Ncobo is gister met ‘n waarskuwing deur die Kempton Park-landdroshof in Ekurhuleni, Gauteng, vrygelaat. Hy word daarvan aangekla dat hy verlede maand sy meisie aangerand het. Die NVG-streekswoordvoerder Phindi Mjonondwane sê die saak is uitgestel tot 7 September vir verdere ondersoek:
# Die Internasionale Strafhof het lasbriewe uitgereik vir senior Taliban-leiers in Afghanistan oor die onderdrukking van vroue. Die regters het in ‘n verklaring gesê daar was “redelike gronde” om te vermoed dat die Opperleier Haibatullah Akhundzada en hoofregter Abdul Hakim Haqqani hierdie misdade teen die mensdom gepleeg het. Die hof sê die beweerde misdade word sedert Augustus 2021 gepleeg toe die Taliban die mag oorgeneem het en vrouens die reg tot onderwys, privaatheid en gesinslewe soos die vryheid van beweging, uitdrukking, denke, gewete en geloof ontneem het.
# Rugby: Die Junior Springbokke speel vanmiddag teen Skotland in die derde ronde van Wêreldrugby se Onder-20-kampioenskap in Italië. Die Bababokke het die jong Wallabies 73-17 verniel in die eerste ronde en dit opgevolg met ‘n oorwinning van 32-20 oor England. Vandag se ander kragmetings is tussen Wallis en Spanje; Engeland en Australië; die jong All Blacks en Ierland; Frankryk en Argentinië; en die gasheer, Italië en Georgië. Die uitspeelwedstryde begin Maandag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-1-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-300-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, het haar verlowing aan haar langtermyn-kêrel, Luke ten Oever, aangekondig. Hulle het die nuus aanlyn gedeel en haar ring, met ‘n smaraggroen steen, ten toon gestel. Die paartjie sê hulle het gekies om hul verlowing privaat te geniet voor hulle dit bekend gemaak het. Ten Oever het haar in ‘n rustige natuurlike omgewing gevra om te trou, wat ‘n nuwe hoofstuk vir die skoonheidskoningin en haar verloofde inlui. Le Roux is nou nog een van ‘n groeiende lys Mej. SA-wenners wat kort ná hul jaar in die kollig die knoop deurhaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….