Nuus 06:00
BULLETIN 8 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump stel ’n 30-persent-tarief in op Suid-Afrikaanse uitvoere
# Die ANC verdedig die minister van Hoër Onderwys oor die SETA-geskil
# En krieket: Die Proteas is in ‘n oorheersende posisie in die 2de toets teen Zimbabwe
# President Donald Trump het ‘n 30-persent-tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika ingestel, wat op 1 Augustus in werking tree. In ‘n brief aan president Cyril Ramaphosa, wat ook op Trump se Truth Social geplaas is, sê hy die tarief is veel minder as wat nodig is om die handelstekortverskil tussen die VSA en Suid-Afrika uit te skakel. Trump sê daar sal geen tariewe wees indien Suid-Afrika of maatskappye in die land besluit om produkte in die VSA te bou of vervaardig nie. Baie ander wêreldleiers het soortgelyke briewe ontvang.
Ramaphosa het intussen Trump se opmerkings gekritiseer waarin hy BRICS-lede met strawwe dreig. Trump het met ‘n bykomende tien-persent-tarief gedreig teen lande wat hulself vereenselwig met wat hy bestempel as die “teen-Amerikaanse beleid van BRICS”. Dit volg nadat BRICS-lede gesê het hulle wil verder beweeg as ‘n VSA-geleide wêreldorde in finansies en globale bestuur. Ramaphosa sê daar moet groter waardering wees vir die opkoms van verskeie magsentrums in die wêreld:
# Die ANC sê die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het te goeder trou opgetree deur ‘n vrywillige raadplegingspaneel aan te stel om te help met die aanstellings van die raadsvoorsitters vir die Sektor Onderwys- en Opleidingsowerheid. Luidens ‘n verklaring was daar geen bedoeling om die Parlement te mislei nie en die fout met advokaat Terry Motau se rol is erken en reggestel. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het op ‘n nuuskonferensie gesê die party ondersteun Nkabane se besluit om oor te begin met die aanstellingsproses ten einde deursigtigheid te verseker:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Stad Johannesburg oorskry sy gesag met pogings om kringtelevisiekameras in privaat besit te beheer. OUTA het die Hooggeregshof in Johannesburg genader om ‘n nuwe verordening te betwis wat inwoners en ondernemings dwing om hul kameras te registreer, fooie te betaal en beeldmateriaal te oorhandig. OUTA se woordvoerder, Stefanie Fick, voer aan toegang tot privaat beeldmateriaal en beheer oor installerings kan die gemeenskap se veiligheidspogings ondermyn:
# Die voormalige minister van Vervoer in Rusland, Roman Starovoit, is in sy privaat motor met ‘n skietwond aangetref. Die voorval volg nadat president Vladimir Putin hom uit sy rol verwyder het. Rusland se Ondersoekkomitee sê die omstandighede rondom die dood van die voormalige goewerneur van die Koersk-streek word ondersoek, maar dit wil voorkom asof hy sy eie lewe geneem het. Starovoit is in Mei 2024 as die minister van Vervoer aangestel nadat hy byna vyf jaar hoof van die Koersk-streek aan die grens van Oekraïne was.
# Krieket: Zimbabwe het dag twee van die tweede toets in Bulawayo afgesluit met 51 lopies vir een in hul tweede beurt nadat hulle gedwing is om voort te gaan terwyl Suid-Afrika voorloop met 405 lopies. Die Proteas het hul eerste beurt op 626 vir vyf verklaar, met plaasvervanger-kaptein Wiaan Mulder, onoorwonne op 367 van 334 balle. Die gashere is toe vir 170 in hul eerste beurt uitgehaal, met nuweling Prenelan Subrayen wat vier paaltjies geneem het, voordat hulle gedwing is om voort te gaan. Vandag sal Takudzwanashe Kaitano hervat op 34 en Nicolas Welch op ses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-276-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….