Nuus 06:00
BULLETIN 7 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris beskuldig minister Mchunu van politieke inmenging
# Openbare-orde-polisie word by gesondheidsfasiliteite ontplooi om buitelanders te beskerm
# En krieket: Mulder se dubbele honderdtal plaas die Proteas in beheer teen Zimbabwe
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, beskuldig dat hy inmeng met hoëprofiel-ondersoeke. Hy het die minister betrek by Vusimusi ‘Cat’ Matlala, wat in Mei vir poging tot moord in hegtenis geneem is. Tydens ‘n media-inligtingsessie gister het Mkhwanazi ook beweer Mchunu het die taakspan vir politieke moorde ontbind nadat ‘n sindikaat ontdek is wat gekoppel is aan politici, insluitend lede van die Parlement:
Mkhwanazi sê voorts 121 saakdossiere wat ondersoek word, is deur die adjunk- nasionale kommissaris van Misdaadspeurwerk, Shadrack Sibiya, van die taakspan vir politieke moorde verwyder. Die taakspan is in 2018 deur president Cyril Ramaphosa gestig:
# Die regering sê die Polisieministerie en die Departement van Gesondheid het openbare orde-polisiëring ontplooi om wet en orde by gesondheidsfasiliteite te handhaaf, aangesien Suid-Afrikaners buitelandse burgers verhoed om toegang te verkry. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê wetstoepassers sal voortgaan om die wet toe te pas, en daadwerklike stappe doen teen diegene wat die reg in eie hand neem om pasiënte by gesondheidsfasiliteite te intimideer. Sy sê wetstoepassingsbeamptes sal voortgaan om buitelanders wat die Immigrasiewet oortree, te arresteer en te vervolg:
# Die Gautengse portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid het ‘n ernstige waarskuwing gerig aan misdaadslagoffers, veral slagoffers van geslagsgeweld, om nie strafregtelike sake teen oortreders terug te trek nie. Die komiteevoorsitter, Bandile Masuku, sê dit kom te midde van groeiende kommer oor ‘n ontstellende tendens wat pogings om geslagsgeweld te bestry en oortreders aanspreeklik te hou, ondermyn. Hy sê 64 sake van geslagsgeweld is deur slagoffers by die Fochville-polisiestasie teruggetrek:
# Krieket: Kaptein Wiaan Mulder het ‘n onoorwonne dubbele 100-tal aangeteken met Suid-Afrika op 465 vir vier teen die einde van spel op dag een van die tweede toets teen Zimbabwe in Bulawayo. Die Proteas het twee vroeë paaltjies verloor nadat hulle ingestuur is om te kolf, maar ‘n vennootskap van 184 lopies tussen Mulder en David Bedingham het die borde verhang. Bedingham is uit vir 82 terwyl die tiener Lhuan-dre Pretorius 78 aangeteken het. Mulder, wat vandag op 264 hervat, hou die rekord as hoogste individuele puntemaker tydens sy kapteinsdebuut in ‘n toets.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-168-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: Openbare reaksie ná ‘n versoek vir voorleggings vir die 2025 Nasionale Kuns- en Kultuurtoekennings het alle verwagtinge oortref met meer as ‘n duisend voorleggings wat ontvang is. Die woordvoerder vir die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, Zimasa Velaphi sê hierdie groei weerspieël die rykdom, verskeidenheid en lewenskragtigheid van Suid-Afrika se kreatiewe sektor. Sy sê die gehalte en aantal voorleggings dui op ‘n dinamiese sektor wat tot uitnemendheid verbind is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….