Nuus 06:00
BULLETIN 4 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê David Mabuza verdien Suid-Afrika se waardering
# Hoofregter Mandisa Maya vra ‘n einde aan hofrekords wat slegs in Engels is
# En Zweli Mkhize sê amptenare wat sensitiewe sake ondersoek, moet beskerm word
# President Cyril Ramaphosa sê die voormalige adjunkpresident, David Mabuza verdien Suid-Afrika se waardering vir sy toewyding tot die bevrydingstryd en aan die nasie se ontwikkeling as ‘n inklusiewe, voorspoedige en demokratiese staat. Mabuza was 65 en is gister in ‘n hospitaal in Mpumalanga oorlede na ‘n kort siekbed. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê namens die regering en die nasie betuig Ramaphosa sy diepste meegevoel aan die oorlede adjunkpresident se vrou, Mama Mabuza, en hul kinders:
# Hoofregter Mandisa Maya het ‘n beroep gedoen vir ‘n einde aan slegs Engelse rekords in Suid-Afrikaanse howe. Sy het gepraat op ‘n forensiese taalkunde- en regskonferensie wat by die Universiteit van die Wes-Kaap aangebied is. Akademici en kundiges by die konferensie het haar kommer beaam en benadruk hoe taalhindernisse billike verhore en toegang tot geregtigheid vir gewone burgers beïnvloed. Maya het gesê taal is van kritieke belang vir toegang tot geregtigheid en vra vir ‘n hersiening van die 2017-opdrag wat Engels in hofverrigtinge verpligtend gemaak het.
# Die voorsitter van die Portefeuljekomitee vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize vra vir bykomende beskerming vir beamptes wat sensitiewe ondersoeke behartig. Mkhize het aan Newzroom Afrika gesê die owerhede moet amptenare wat sensitiewe sake ondersoek, beskerm teen dreigemente en geteikende aanvalle. Dit volg op die moord van ‘n senior ouditeur van die Stad Ekurhuleni, Mpho Mafole. Mkhize beklemtoon dat fluitjieblasers en ondersoekbeamptes beskerm moet word om aanspreeklikheid te handhaaf en korrupsie te beveg:
# Drie Kameroense burgers het in die Landdroshof in Pretoria verskyn vir die bestuur van ‘n sindikaat wat na bewering geld vervals. Die saak is tot 10 Julie uitgestel vir ‘n borgtogverhoor. Die drie is in Elarduspark in hegtenis geneem nadat die polisie hulle vasgetrek het terwyl hulle vals Suid-Afrikaanse note en Amerikaanse dollars druk. Die Nasionale Vervolgingsgesag-streekswoordvoerder, Lumka Mahanjana, sê daar is ook ‘n aanklag van omkopery teen een van die beskuldigdes, omdat hy na bewering die polisie twee-duisend-rand aangebied het om hom nie in hegtenis te neem nie:
# Twee mense is gister dood in ‘n Russiese lugaanval op die sentrale Oekraïnse stad Poltava waar ‘n militêre dienspligkantoor ook beskadig is. Kiëf noem dit ‘n beplande veldtog om sy werwingspogings te ontwrig. Die aanval op Poltava, waarin 47 mense beseer is en wat ‘n brand veroorsaak het by die stad se hoofdienspligkantoor, het gevolg op ‘n hommeltuigaanval naby ‘n werwingsentrum in Kryvyi Rih. ‘n Woordvoerder van Oekraïne se grondmagte, Vitaliy Sarantsev, het in gesprek met die land se staatsuitsaaier gesê die Russiese doelwit is om die mobiliseringsproses te ontwrig.
# Tennis: Novak Djokovic het sy aanspraak op ‘n 25ste Grand Slam-titel versterk met sy toetrede tot die derde rondte na hy die Brit, Dan Evans oorrompel het. Djokovic het minder as twee ure nodig gehad om Evans met ‘n meedoënlose vertoning in die tweede rondte op die hoofbaan uit te skakel. Djokovic, die sesde gekeurde, het met ‘n maagkwaal gesukkel teen Alexandre Muller en hom in vier stelle geklop, maar die sewe-malige Wimbledon kampioen het niks van sy kwaal oorgehou toe hy Evans met 46 kishoue van die baan gevee het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-50-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-647-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….