Nuus 06:00
BULLETIN 3 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nobuhle Nkabane verwerp oproepe vir haar bedanking as vrouehaat
# NUMSA kry die groen lig om te staak oor sy Gautrein-loongeskil
# En Denemarke gaan vroue vir militêre diens oproep
# Die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, sê politieke partye wat die departement se begroting verwerp, verwerp eintlik Suid-Afrikaners se begroting. Die DA en die EFF kritiseer haar leierskap, haar hantering van die SETA-raad se aanstellings en kwessies met betrekking tot die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Nkabane het eise vir haar bedanking as vrouehaat afgemaak. Sy het op ‘n toespraak in Kaapstad onthul NSFAS het sedert 2023 reeds 332-miljoen-rand aan studente uitbetaal. Sy bepleit voortgesette belegging in akademiese opleiding:
# Die Nasionale Metaalwerkersvakbond van Suid-Afrika is toestemming verleen om te staak na loononderhandelinge met die Bombela Operating Company, wat die Gautrein bedryf, skipbreuk gely het. ‘n NUMSA-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die vakbond eis ‘n loonverhoging van sewe-persent en verbeterde toelaes, en verwerp die werkgewer se aanbod van 4,2-persent. Die vakbond blameer die maatskappy se arrogansie. Sy doen ‘n beroep op die Gautrein-bestuursagentskap en die Gautengse regering om in te gryp en ontwrigting van dienste te voorkom:
# Die politieke ontleder, Bheki Mngomezulu, sê verdeeldheid binne die MK-party kan sy verkiesingsvooruitsigte benadeel. Dit volg op oproepe om die hoofsweep, Colleen Makhubele, te verwyder na beskuldigings van swak leierskap. Daarbenewens het die adjunkpresident, John Hlophe, die woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, uit die sweep-span verwyder weens faksiegevegte en oneerbiedige optrede teenoor senior partyleiers. Mngomezulu het aan SABC News gesê openbare binnegevegte dui op onbestendigheid, wat party-eenheid en kiesersvertroue bedreig:
Hlophe, het intussen partyleier Jacob Zuma gevra om die party se senior bestuurstruktuur in die Parlement te ontbind. Hy beskuldig die leiers in ‘n brief dat hulle die hoofsweep Colleen Makhubela se gesag ondermyn en opruiende gedrag toelaat. Hlophe verwys veral na Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, en die party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, wat koukusvergaderings ontwrig. Hy waarsku die interne verdeeldheid bedreig eenheid en kan MK se optrede in die Parlement skaad.
# Denemarke het sy militêre diens uitgebrei om vroue in te sluit, om meer soldate te werf en sy verdediging te versterk te midde van verhoogde veiligheidskommer reg oor Europa. Ingevolge ‘n Deense wet wat in Junie 2023 goedgekeur is, sal vroue wat 18 word na 1 Julie moet registreer vir keuring vir moontlike militêre diensplig. Tot dusver is vroue, wat verlede jaar ongeveer 24-persent van alle rekrute uitgemaak het, toegelaat om vrywillig by die weermag aan te sluit. Die gewapende magte is nou besig om barakke en toerusting aan te pas vir gebruik deur vroue.
# Tennis: Carlos Alcaraz het Oliver Tarvet se Wimbledon-avontuur kortgeknip toe die verdedigende kampioen gister met ‘n oorwinning oor die Britse amateur tot die derde ronde deurgedring het. Die tweede gekeurde Alcaraz het twee uur en 17 minute nodig gehad om die wêreldnommer 733, Tarvet, te verslaan, wat dié opkomende talent se vermoë om ‘n partydige skare te vermaak demonstreer het. Tarvet begin nou eers sy tennisloopbaan, en as student aan die Universiteit van San Diego moet die 21-jarige amateurstatus behou, wat beteken dat hy die meeste van sy verdienste sal moet prysgee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-96-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….