Nuus 06:00
BULLETIN 2 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering van nasionale eenheid sal alle begrotings steun ongeag die DA se dreigemente
# Die polisie word toegegooi met meer as 67-duisend werksaansoeke
# En rugby: Siya sal nie die Bokke teen die Italianers op Loftus lei nie
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering van nasionale eenheid sal voortgaan om alle nasionale begrotings te ondersteun. Gedurende ‘n toespraak in die Vrystaat het hy die DA se dreigemente afgemaak en gesê begrotings dien die mense en nie individuele ministers nie. Mashatile het beklemtoon die ANC sal vir elke begroting stem om dienslewering te verseker en die ekonomie te laat groei. Hy het bygevoeg die ANC is reg om enige mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa te verslaan:
# Die Lughawemaatskappy Suid-Afrika sê hy verwag dat O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng vandag weer ten volle in werking sal wees. Dit volg na gister se ontwrigting wat vertragings veroorsaak het. Die meeste binnelandse vlugbedrywighede het gestabiliseer en bykomende personeel is aangewys om internasionale passasiers te hanteer. Reisigers word steeds aangemoedig om vroeg te arriveer om voldoende tyd vir prosessering toe te laat. Die maatskappy bevestig dat al die ander lughawes normaal funksioneer.
# Die Polisiediens het meer as 67-duisend aansoeke ontvang vir sy basiese opleidingsprogram. Die hoë volume het vertragings veroorsaak op die werwings-webblad en tegniese spanne werk om die stelsel bestendig te kry. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk het aansoekers herinner die sluitingsdatum is 18 Julie:
# Die Randburgse Landdroshof het die borgaansoeke van 12 Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-lede tot môre [Donderdag] uitgestel om hul adresse na te gaan. Hulle staar ernstige aanklagte in die gesig, insluitende moord, ontvoering, bedrog en dwarsboming van die gereg. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die SANW-lede word daarvan aangekla dat hulle twee Ethiopiese burgers in 2022 ontvoer het en word ook verbind met die skietdood van ‘n lid van die Valke, Frans Mathipa, wat die saak ondersoek het.
# Elon Musk se jongste aanval op wat hy Donald Trump se “waansinnige bestedingswetsontwerp” noem, beïnvloed skynbaar die aandeelprys van Tesla. Die wetsontwerp is deur die Amerikaanse Senaat goedgekeur. Musk se jongste uitbarsting en Trump se reaksie het die bekgeveg tussen die voormalige bondgenote laat opvlam. Trump het gesê hy “kyk” na die moontlikheid om die Tesla-stigter te deporteer en het gedreig om Musk se subsidies vir sy ruimte- en satellietondernemings te sny. Beleggers het kennis geneem van die hernieude struweling en Tesla se aandele het met meer as vyf-persent getuimel.
# Rugby: Die Springbok-middelveldspeler, Jesse Kriel sal die span Saterdag teen Italië op Loftus Versfeld lei en amptelik die 67ste kaptein word. Kriel is gekies omdat Siya Kolisi ‘n stywe Achilles-sening het, en daar is as voorsorgmaatreël besluit om hom uit die wedstryd te hou. Afrigter Rassie Erasmus sê Kriel sal vir die volle 80 minute op die veld bly. Hy het besluit om nie die kapteinskap vir Eben Etzebeth te gee, wat die span al voorheen aangevoer het nie. Die wedstryd begin Saterdagmiddag om tien-oor-vyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-619-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….