Nuus 06:00
BULLETIN 1 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank wil ‘n laer inflasieteiken hê om die rand te beskerm
# ‘n Israelse aanval op ‘n strandkafee in Gaza eis die lewens van ten minste 20 Palestyne
# En tennis: Lloyd Harris is deur na die tweede ronde by Wimbledon
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago sê die huidige 4,5-persent inflasiedoelwit verswak die rand en verdubbel pryse elke 16-jaar. In die Reserwebank se jaarverslag, vra Kganyago vir ‘n drie-persent teiken, wat in lyn is met globale standaarde. Kganyago beskryf die inflasiekoers van 2,8-persent in Mei, as ‘n uitstekende geleentheid vir hervorming. Dit word verwag dat die Reserwebank en die Tesourie beleidsoorsig-aanbevelings sal voorstel, wat ook uitleenkoerse kan verlaag en prysbestendigheid verbeter.
# Die vakverbond Cosatu het die aansienlike vooruitgang in die Twee-pot Pensioenhervorming verwelkom. Sedert dit op 1 September verlede jaar in werking gestel is, is meer as 57-miljard-rand aan meer as 3,5-miljoen werkers uitbetaal. Terwyl die vakbond die verligting prys wat deur die hervorming meegebring is, het Matthew Parks van die vereniging die meer as sewe-duisend-700 werknemers veroordeel wat nie hulle pensioenbydrae betaal het nie. Hy stel verdere hervormings voor, insluitend toegang tot ‘n onderwyslening en belastingverligting vir lae-inkomste-werkers:
# Die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers het die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge versoek om die Padongelukkefonds se weiering om mediese skemas te vergoed, by sy komende ondersoek in te sluit. Hy voer aan die fonds se wanbetaling vir slagoffers se behandeling, wat in 2022 begin het, oortree hofbevele en ondermyn die fonds se wettige verpligtinge. Die raad se woordvoerder, Katlego Mothudi, waarsku hierdie weiering kos skemas honderde miljoene rande en bedreig hul volhoubaarheid en toegang tot privaat gesondheidsorg:
# Die Gautengse Departement van Onderwys het bevestig daar sal moontlik vertragings wees met die betaling van onderwys- en algemene assistente as gevolg van voortgesette dataverifikasie. Bykans agt-duisend assistente kan in die eerste betalingsiklus geraak word. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê slegs geverifieerde individue sal betaal word, en alle betalings sal na verwagting teen einde Julie voltooi wees:
# Ten minste 20 Palestyne is gister dood in ‘n Israelse lugaanval op ‘n gewilde strandkafee waar aktiviste, joernaliste en plaaslike inwoners in westelike Gaza gereeld kuier. ‘n Woordvoerder van Gaza se Hamas-beheerde Burgerlike Verdediging het aan die BBC gesê reddingspanne het 20 liggame en tientalle beseerdes uit die Al-Baqa-kafeteria ontruim. Hy sê noodspanne is steeds besig om deur ‘n diep krater te soek wat deur die ontploffing gelaat is. Die aanval volg te midde van toenemende druk op die Israelse premier, Benjamin Netanyahu om ‘n skietstilstandooreenkoms te bereik.
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris is deur na die tweede ronde van Wimbledon nadat hy sy openingswedstryd teen Zizou Bergs van België gewen het. Harris se segetog het net meer as vier uur geduur. Dit was uit die staanspoor ‘n hewige stryd in die eerste drie stelle van die kragmeting. Harris het die eerste twee gewen, met Bergs die derde, maar Harris het die vierde stel oorheers en die oorwinning te behaal. Hy het 23 kishoue geslaan en slegs vier dubbelfoute aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-163-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-311-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….