Nuus 06:00
BULLETIN 30 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC herbevestig sy verbintenis tot bestendigheid in die regering van nasionale eenheid
# Die Forum for South Africa verwelkom die DA se onttrekking aan die Nasionale Dialoog
# En Israel beveel ontruimings in die noorde van Gaza
# Die ANC sê hy is steeds verbind tot die sukses van die regering van nasionale eenheid en sal voortgaan om met alle gewillige vennote saam te werk om die waardes van die Grondwet te bevorder. Die DA-leier, John Steenhuisen, het vroeër aangekondig dat die party nie aan die Nasionale Dialoog sal deelneem nie nadat president Cyril Ramaphosa die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield, afgedank het. Die ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê dit is nogal verbasend dat die DA gekies het om nie die Nasionale Dialoog te ondersteun nie:
Die Forum for South Africa het intussen die DA se onttrekking aan die Nasionale Dialoog verwelkom en noem dit opportunisties maar noodsaaklik. Die FOSA-woordvoerder, Tebogo Mashilompane, hou vol die dialoog is ‘n verkwistende poging om ministers wat misluk te beskerm. Mashilompane voer aan landsburgers wil optrede sien oor werkgeleenthede, veiligheid en dienste, nie duur besprekings nie. Hy doen ‘n beroep op Ramaphosa om die dialoog te kanselleer, swak ministers af te dank en te fokus op werklike oplossings vir die land se dringendste uitdagings:
# Gauteng se LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê die provinsie betaal vandag 5,76-miljard-rand aan e-tolskuld en die ondersteuning van SANRAL se snelwegverbeterings. Maile sê dit is deel van Gauteng se Provinsiale Inkomsteverbeteringstrategie en breër infrastruktuurplanne. Hy sê verder werk is aan die gang om die finansieringsmodel vir fase 2 en 3 van die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek te bepaal, met veranderinge wat mettertyd bekendgemaak sal word:
# Die Kaapstad-stadsraad het veranderinge aan sy Munisipale Beplanningsverordening goedgekeur, wat bekostigbare behuising sal uitbrei, veral in laerinkomste-agterplase. Belangrike veranderinge sluit in nuwe huurwoonstelregte in gebiede soos Athlone en Bellville, asook vaartbelynde kommunikasie via e-pos. Die burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die hervormings sal mikro-ontwikkelaars bemagtig om veiliger, wettige, formele huise te bou met inkomste vir dienste in groeiende gemeenskappe.
# Israel het Palestyne beveel om dele van Noord-Gaza te ontruim voor verhoogde militêre optrede, terwyl president Donald Trump druk uitoefen vir ‘n skietstilstandooreenkoms. Mense in woonbuurte reg oor Gaza-stad en Jabalia is aangesê om suidwaarts te beweeg na die kusgebied van al-Mawasi namate Israelse militêre operasies verskerp en weswaarts uitbrei. Volgens Hamas se ministerie van Gesondheid is ten minste 86 mense dood in Israelse aanvalle in die 24 uur tot gistermiddag. Trump het vroeër die hoop uitgespreek vir ‘n skietstilstand die week.
# Motorsport: Lando Norris het gister die Oostenrykse Grand Prix voor Oscar Piastri weggeraap vir ‘n oorheersende McLaren met 1-2 by die Red Bull Ring. Die Ferrari’s van Charles Leclerc en Lewis Hamilton het derde en vierde geëindig terwyl Norris die gaping op Piastri in die jaerskampioenskap tot 15 punte verminder het. Norris het uit die voorste plek weggespring en, ten spyte van druk deur sy spanmaat, sy derde oorwinning van die seisoen behaal. Die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen van Red Bull het in die eerste rondte uitgeval na ‘n botsing met Kimi Antonelli se Mercedes toe die Italianer se bande gesluit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-416-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-266-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….