Nuus 06:00
BULLETIN 20 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê Suid-Afrika staan vir vreedsame oplossings eerder as militêre ingryping
# Die Oos-Kaapse vloedskade word op vier-miljard-rand geraam
# En nog ‘n verdagte is gearresteer vir die moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê dit het baie duidelik geword dat die wêreld nou meer as ooit, te midde van die onstuimige wêreldkrisisse, solidariteit nodig het. Hy het ‘n lesing by die Staatsuniversiteit van St. Petersburg in Rusland gelewer. Hy is die week op ‘n werksbesoek aan Moskou, met die doel om ekonomiese en handelsbande tussen die twee lande te versterk. Mashatile sê Suid-Afrika handhaaf ‘n onpartydige posisie in internasionale sake, en gee voorkeur aan staatsoewereiniteit, vreedsame geskilbeslegting en multilateralisme.
# Action Society sê burokrasie en politieke meningsverskille ondermyn pogings om Suid-Afrikaners veilig te hou namate misdaad toeneem. Die organisasie doen ‘n beroep op die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om onmiddellik volle polisiëringsmagte aan bevoegde munisipaliteite toe te ken. Action Society is van mening beperkte magte en rompslomp verhinder die plaaslike polisie se vermoë om misdaad doeltreffend te beveg. Die woordvoerder, Juanita du Preez, eis dringende hervormings wat munisipale polisie volle gesag gee om oortreders te ondersoek en te arresteer:
# Die waarnemende premier van die Oos-Kaap, Mlungisi Mvoko, sê vloedskade in die provinsie word op vier-miljard-rand beraam. Meer as vier-duisend-200 huise is vernietig, met amper twee-duisend wat gedeeltelik beskadig is. Mvoko het bevestig dat meer as 400 skole en een-duisend-500 klaskamers beskadig is, wat meer as 40-duisend leerders raak. Hy sê die regering is daartoe verbind om slagoffers by te staan:
# Die polisie in KwaMhlanga, Mpumalanga, het nog ‘n verdagte aangekeer in verband met die ontvoering en moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli. Die paartjie het in Februarie verdwyn, en hulle liggame is verlede maand deur DNS-toetsing uitgeken nadat hulle oorskot in ‘n veld in Rust de Winter, Limpopo, gevind is. KwaMhlanga se stasiebevelvoerder, Lindiwe Dlamini, het bevestig dat die verdagte verlede week aangekeer is. Mdhluli en Ndlovu sal onderskeidelik vandag en môre in Mpumalanga begrawe word.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die eskalasie van vyandelikhede tussen Israel en Iran plaas gesondheidsfasiliteite en toegang tot gesondheidsorg in gevaar. ‘n Nuwe vlaag Iranse missiele het Israel gister getref, met die Soroka Mediese Sentrum in Beersheba wat deurgeloop het en meer as 70 mense is beseer. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, doen ‘n beroep op alle partye om gesondheidsfasiliteite, gesondheidspersoneel en pasiënte te alle tye te beskerm. Hy sê die beste medisyne is vrede.
# Krieket: Die nuwe Wêreldtoetskampioenskap-siklus is reeds onderweg, na Suid-Afrika se uitstekende oorwinning oor Australië die afgelope naweek op Lord’s. Die nuwe siklus begin vandag op Headingley met die eerste van vyf toetse tussen Engeland en Indië. Dit is ‘n nuwe era vir Indië sonder legendariese staatmakers Virat Kohli en Rohit Sharma. Indië gaan probeer om vir die eerste keer in 18 jaar ‘n reeks in Engeland te wen. Shubman Gill is die besoekers se nuwe kaptein. Die ander vier toetse word gespeel op Edgbaston, Lord’s, Old Trafford en die Oval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-860-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-367-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….