Nuus 06:00
BULLETIN 19 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sal vandag ‘n betoging lei vir die verwydering van advokaat Shamila Batohi
# Donald Trump weier om te sê of Amerika Iran gaan aanval
# En rugby: 950-rand-kaartjies is beskikbaar vir die Springbokke teen die Barbarians in Kaapstad
# ActionSA ruk vandag op na die minister van Justisie se kantoor in Pretoria en eis dat die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, verwyder word. Hulle doen ‘n beroep vir dringende regeringsingryping om met die proses te begin en Batohi kragtens die NVG-wet te verwyder. Die ActionSA-lid, Athol Trollip, het aan die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge gesê die NVG is wanfunksioneel onder Batohi se leierskap, met vertragings, skandale en versuim om diegene met politieke bande te vervolg:
# Die Vereniging van Vleisin – en -uitvoerders en die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkingsvereniging het die regering se gedeeltelike opheffing van die pluimveeverbod vanuit Brasilië verwelkom. Die opheffing tree vandag in werking. Invoere hervat uit alle state behalwe Rio Grande do Sul, wat deur voëlgriep geraak word. Hierdie verandering verhoed moontlik proteïentekorte. Die vereniging vra vinniger finalisering van streeksgesondheidooreenkomste en die heropening van ander sleutelmarkte om langtermyn-veerkragtigheid van voedselstelsels te verseker.
# Die Openbare Beskermer, advokaat Kholeka Gcaleka, het onreëlmatighede gevind met die bou van die Lesseyton-stadion van 22,7-miljoen-rand in Komani, Oos-Kaap. Die stadion, wat in Oktober 2021 geopen is, het wydverspreide openbare kritiek uitgelok weens die swak gehalte en die hoë boukoste. ‘n Forensiese ondersoek het bevind die tender wat aan die konstruksiemaatskappy Thalami Civils toegeken is, was onreëlmatig. Gcaleka sê prosedurele kwessies is ook tydens die tenderproses gevind:
# Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer sê sy PotholeFixGP-toepassing help hom sedert 2022 met byna 39-duisend slaggate wat reggemaak is. Die toepassing, waar motoriste slaggate en stukkende verkeersligte kan aanmeld, is meer as 19-duisend keer afgelaai. Meer as twee-duisend-100 slaggate is in Krugersdorp aangemeld, en meer as een-duisend-700 is reggemaak. Die Derdepoort-gebied in Tshwane het die meeste slaggate wat nog wag om reggemaak te word, nadat 763 aangemeld en 375 reggemaak is. Benoni het 430 slaggate aangemeld en 288 is reggemaak. Daar is reeds aandag geskenk aan sowat 72-persent van die slaggate wat aangemeld is.
# President Donald Trump weier om te sê of die VSA beplan om Iran of sy kernfasiliteite aan te val. Dit volg terwyl die dodelike konflik tussen Israel en Iran steeds toeneem. Amerika het gevegsteun aan Israel verskaf sedert die missielaanvalle tussen Israel en Iran verlede week begin het. Trump het gister aan verslaggewers by die Withuis gesê Iran het uitgereik en wil onderhandel:
# Rugby: Die organiseerders van volgende naweek se wedstryd tussen die Springbokke en die Barbarians in Kaapstad het twee nuwe blokke kaartjies vrygestel om Suid-Afrika se Wêreldbekeroorwinning van 1995 te vier. Die oorwinning van 30 jaar gelede sal herdenk word met die verbyvlug van ‘n jumbo-straler wanneer die Bokke hulle seisoen afskop. Die kategorie-kaartjies teen 950-rand elk is nou beskikbaar vir die noordelike en suidelike pawiljoene. Die Bokke het die All Blacks 15-12 geklop in die eindstryd op Ellispark op 24 Junie 1995.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-728-dollar-30-sent. Die prys van goud is drie-duisend-371-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….