Nuus 06:00
BULLETIN 17 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê baie jongmense leef steeds in onaanvaarbare omstandighede
# Benjamin Netanyahu sê Israel wen die oorlog teen Iran
# En krieket: Die Protea-vroue begin hul Wêreldbeker-veldtog teen Engeland
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê ekonomiese strukturele uitdagings moet opgelos word om ongelykheid en die teenstrydighede in vaardighede tussen wat onderwys bied en die arbeidsmark benodig, aan te spreek. Hy het gister die hoofrede gelewer by die nasionale Jeugdag-viering in Potchefstroom, Noordwes. Mashatile het erken die regering kan meer doen om ‘n bevorderlike omgewing vir jongmense te skep:
Die DA-leier John Steenhuisen sê intussen dit is ‘n nasionale tragedie dat meer as 8,7-miljoen jongmense nie deel is van die arbeidsmag, onderwys of opleiding nie. Hy het Jeugdag in Mbombela, Mpumalanga, herdenk waar hy die party se planne om jeugwerkloosheid te beveg, uiteengesit het. Steenhuisen sê vanuit die regering kan en sal die DA aandring op dringende hervormings wat ekonomiese groei sal steun, en as gevolg hiervan, werksgeleenthede vir alle burgers verbeter:
# Die Oos-Kaapse regering vra gemeenskapslede om te midde van die stygende dodetal na die onlangse vloed, na vore te kom met inligting oor vermiste geliefdes. ‘n Woordvoerder vir die Provinsiale Regering, Khuselwa Rantjie, sê soektogte sal voortduur tot almal gevind is. Sy het die behoefte aan ‘n behoorlike stelsel beklemtoon ten einde ongeïdentifiseerde liggame uit te ken en gesinne by te staan. Sy sê owerhede is veral bekommerd oor gevalle waar hele gesinne dalk in die ramp vermis geraak het:
#Die gesinne van die uitsaaier Sibusiso Aserie Ndlovu en sy verloofde Zodwa Mdhluli het bevestig ‘n gedenkdiens word Woensdag gehou. Dit vol nadat DNA bevestig het dis hul oorskot wat in Rust de Winter gevind is. Die paartjie het in Februarie verdwyn. Vier van die agt verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer ontvoering en roof. Ndlovu se begrafnis sal in KwaMhlanga, Mpumalanga gehou word. Die families sê die gedenkdiens bring afsluiting en is ‘n oproep tot geregtigheid.
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu sê met die dodelike konflik tussen Israel en Iran wat die vyfde dag betree, is Israel besig om te wen. In Israel is 24 mense dood sedert die vyandelikhede verlede Vrydag begin het, terwyl 224 mense in Iran omgekom het. Netanyahu sê hulle is op koers om hul twee doelwitte te bereik, naamlik die uitskakeling van die kernbedreiging en die teenwerking van die missielgevaar. Hy sê Israel val regeringsteikens aan, in teenstelling met die Iranse regime, wat burgerlikes teiken.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het die volledige skedule vir die 50-beurt Vroue Wêreldbeker uitgereik, met vyf stede regoor Sri Lanka en Indië as gasvroue. Indië kom teen Sri Lanka te staan in die openingswedstryd in Bengaluru op 30 September. Die heersende kampioene Australië sal met die verdediging van hul titel begin teen Nieu-Seeland. Suid-Afrika open sy veldtog op 3 Oktober teen Engeland in Bengaluru. Drie dae later kom hulle in Indore te staan teen Nieu-Seeland, gevolg deur ‘n wedstryd teen Indië op 9 Oktober.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-909-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-394-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….