Nuus 06:00
BULLETIN 13 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie sê daar was ten minste een oorlewende in die Air India-ramp
# Die kabinet tree vinnig op teen bek-en-klouseer
# En krieket: Rabada en Ngidi kom tot Suid-Afrika se redding teen Australië
# Die polisie in Ahmedabad, Indië sê daar is ten minste een oorlewende van die Air India-vlug op pad na Londen wat minute nadat dit opgestyg het, neergestort het. Daar was 242 mense aan boord. Die oorlewende is die passasier in sitplek 11A en hy is geïdentifiseer as Vishwash Kumar Ramesh, ‘n Britse burger. Hy het aan die Hindustan Times gesê hy het onder meer beserings aan sy bors, oë en voete opgedoen. Die polisie sê daar is moontlik nog ‘n paar oorlewendes in die hospitaal.
Die Suid-Afrikaanse regering het intussen sy opregte meegevoel uitgespreek teenoor Indië . Die vlug onderweg na Londen het in ‘n hostel vir dokters vasgevlieg. Die woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri sê Suid-Afrika is in solidariteit met Indië en al die lande wat geraak is:
# Die Kabinet sê hy het vinnig opgetree teen ‘n nuwe uitbreking van bek-en-klouseer, met inperkingsmaatreëls wat reeds in plek is. Die Departement van Landbou het meer as 900-duisend dosisse entstof bestel, met die eerste besending wat binnekort verwag word. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê plase wat geraak is in Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal is onder kwarantyn geplaas, en die beweging van vee word beperk:
# Die DA sê die Oos-Kaapse premier moet ‘n provinsiale ramptoestand verklaar nadat minstens 70 mense weens verwoestende oorstromings dood is. Honderde gesinne is haweloos, en daar is omvattende skade aan huise, skole en hospitale. Verder is 500-duisend inwoners sonder elektrisiteit. Die DA-lid, Vicky Knoetze, kritiseer die regering se stadige reaksie en doen ‘n beroep vir dringende optrede om hulppogings te versnel en mense in nood te help:
# Die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings sê hy gaan voort met aanklagte teen Bafana Mahungela, wat beskuldig word van die moord op die Delta Park-onderwyser Kirsten Kluyts. Die 22-jarige word ook aangekla van ontvoering, roof en ‘n poging tot die verkragting van Kluyts. Die verdediging het aangevoer daar is onvoldoende bewyse, maar die Staat sê hy is gereed vir die verhoor. Die Hooggeregshof in Johannesburg het die saak uitgestel tot 13 Oktober. Mahungela bly in aanhouding.
# Krieket: Die Protea-boulers het gister die laaste sessie op dag twee van die Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd teen Australië op Lord’s in Londen oorheers. Pat Cummins het ses paaltjies geneem om Suid-Afrika met slegs 138 te laat, terwyl Australië ‘n voorsprong van 74 in die eerste beurt geneem het. In antwoord het die snelboulers Kagiso Rabada en Lungi Ngidi elk drie paaltjies geneem om die Aussies met 144 vir agt in hul tweede beurt te laat wankel. Australië lei teen Suid-Afrika met 218 lopies met twee paaltjies oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-923-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-384-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….