Nuus 06:00
BULLETIN 11 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal met president Trump vergader tydens die G7-beraad in Kanada
# Die gure weer in die Oos-Kaap eis sewe lewens
# En krieket: Die afrigter verwag nie die Proteas sal onder druk swig in die Toets-eindstryd nie
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal tydens die komende G7-leiersberaad in Kanada bilaterale samesprekings voer met verskeie staatshoofde, insluitend president Donald Trump. Die vergadering met Trump vind plaas nadat die twee leiers in Mei in die Withuis vergader het. Ramaphosa het kritiek op sy onlangse reis na Washington van die hand gewys en gesê dit was ‘n strategiese stap om verhoudings met een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote te herstel:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, sê die besluit om aan die miljardêr Elon Musk se organisasie, Starlink, ‘n bedryfslisensie in Suid-Afrika toe te ken, berus uitsluitlik by die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika. Terwyl Musk weerstand bied teen die nakoming van swartbemagtigingsreëls, stel Malatsi voor dat hy belê in sake-ondernemings in swart besit. Die minister sê Starlink kan landelike verbinding bevorder, maar die toekoms daarvan hang af van die verwerking van Suid-Afrika se bemagtigingswette te midde van politieke debat en regulatoriese ondersoek.
# Build One South Africa sê die regering moet ophou om jongmense sielkundig te manipuleer en dringend optree om jeugwerkloosheid aan te spreek. BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, het tydens die Jeugdag-debat in die Parlement gevra dat alle townships as Spesiale Ekonomiese Sones verklaar word om beleggings te lok en werk te skep. Hlazo-Webster het ook ‘n beroep op President Ramaphosa gedoen om die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, af te dank omdat sy nie jong entrepreneurs ondersteun wat deur burokrasie oorweldig word nie:
# Sewe mense is dood tydens oorstromings as gevolg van gure weersomstandighede in die Oos-Kaap. Ses liggame is by die dorpie Decoligny in Mthatha gevind, terwyl die sewende in Tsolo naby die Bedlana-rivier gevind is. Die provinsiale woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê reddingspanne soek steeds na ‘n minibus met skoolkinders wat meegesleur is terwyl hulle ‘n brug naby Mthatha oorgesteek het. Sy sê drie leerders is gered:
# Die Verenigde Koninkryk het sanksies teen twee Israeliese ministers ingestel as gevolg van hul uitsprake oor Gaza. Itamar Ben-Gvir en Bezalel Smotrich word verbied om Brittanje te besoek en hul bates in die land word gevries as deel van die maatreëls deur die minister van Buitelandse Sake, David Lammy. Smotrich het ‘n veldtog gevoer teen hulp aan Gaza, terwyl Ben-Gvir gevra het die inwoners van Gaza moet buite die gebied hervestig word. Albei ministers behoort aan regsgesinde partye wat eerste minister Benjamin Netanyahu se koalisieregering ondersteun.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, aanvaar daar sal senuwees wees wanneer hulle van vandag in Londen teen Australië speel in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap, maar verwag nie dat sy spelers onder druk sal swig soos in die verlede te dikwels met Suid-Afrikaanse spanne gebeur het nie. Sewe van die spanlede het reeds op die heiligdom van krieket, Lord’s, gespeel. Conrad sê die nuwe bal sal deurslaggewend wees en hy het snelbouler Lungi Ngidi bo Dane Paterson gekies om die meeste van daardie geleentheid te maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-149-dollar-90-sent. Die prys van goud is drie-duisend-321-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….