Nuus 06:00
BULLETIN 10 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum dring daarop aan dat John Steenhuisen sy belofte aan Donald Trump oor plaasaanvalle nakom
# Die regter in die Senzo Meyiwa-verhoor is bereid om homself te onttrek
# En krieket: Kenners sê Australië is die gunstelinge teen Suid-Afrika in die Wêreldtoetskampioenskap
# AfriForum vra die minister van Landbou, John Steenhuisen, om sy belofte aan die Amerikaanse president, Donald Trump, na te kom om voorkeur te gee aan die voorkoming van plaasaanvalle. Die burgerregtegroep sê Steenhuisen se opmerkings aan Trump, wat plaasaanvalle en veediefstal tot voorkeur-misdade verklaar, moet deur dringende optrede opgevolg word. Jacques Broodryk van AfriForum waarsku dat versuim om dit te doen, neerkom op ernstige wanvoorstelling. Hy dring daarop aan dat landelike misdade, insluitend renosterstropery, dieselfde aandag geniet as ander voorkeurmisdade:
# Corruption Watch sê die nalatenskap van die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, bly onseker met slegs tien maande van haar ampstermyn wat oorbly. Karam Singh van Corruption Watch glo dis Batohi se kans om die Parlement met vrymoedigheid toe te spreek, sistemiese uitdagings uit te lig en hervormings soos anti-korrupsiehowe aan te moedig. Singh het teenoor Newzroom Afrika die belangrikheid van innovering, deursigtigheid, bateherwinning en aanspreeklikheid beklemtoon in die stryd teen korrupsie wat verder as vervolging strek. Hy het ‘n beroep op sterker leierskap gedoen:
# Die African Transformation Movement sê Caesar Nongqunga sal Vuyo Zungula opvolg as die party se president. Zungula, wat die party sedert 2018 gelei het, sal aanbly as partyleier in die Parlement. Die ATM prys Zungula se belangrike rol in die vorming van die party en sê Nongqunga beskik oor dekades se leierskap- en gemeenskapsdiens-ervaring. Die party sê die skeiding van die parlementêre en organisatoriese leierskap sal die party se groei en impak versterk namate hy ‘n nuwe era van transformasie betree.
# Die regter in die Senzo Meyiwa-verhoor sê hy is bereid om homself te onttrek as die prokureurs in die saak glo dat hy bevooroordeeld is. Dit volg nadat regter Ratha Mokgoatlheng gister verskoning gevra het na aanleiding van kritiek teen sy opmerkings in die hof verlede week. Hy het na swart regslui verwys, wat deur sommige as rassisties bestempel is. Mokgoatlheng sê hy erken hy het twyfelagtig en verkeerd opgetree:
# Israel se linkse opposisieleier, Yair Golan, het ‘n onmiddellike einde aan die oorlog in Gaza geëis en sê premier Benjamin Netanyahu se regering verteenwoordig nie meer die meerderheid Israelse burgers nie. Golan se party, ‘n samevoeging van linkse faksies, besit slegs vier van die 120 setels in Israel se wetgewer, wat dit een van die kleinste politieke groepe maak. In ‘n land waar koalisievorming noodsaaklik is om ‘n politieke meerderheid te bereik, kan selfs relatief klein partye egter aansienlike mag uitoefen.
# Krieket: Kenners plaas hulle geld op die verdedigende kampioen, Australië, om Suid-Afrika te klop in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap wat môre op Lord’s in Londen begin. Albei spanne het maande laas toetskrieket gespeel, maar ‘n gewese kaptein van Engeland, Michael Vaughan, het vroeër gesê die Proteas het die eindstryd gehaal deur omtrent niemand te klop nie terwyl Australië teen baie sterker spanne gespeel het. Kagiso Rabada sal Suid-Afrika se naatboul-aanval lei. Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, beskryf dit as die belangrikste wedstryd in die span se bestaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-939-dollar-79-sent. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….