Nuus 06:00
BULLETIN 9 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê minister Lamola moet swart bemagtiging laat vaar
# Helen Zille oorweeg dit om die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg te word
# En rugby: Evan Roos word opgeroep vir die Springbok-oefengroep
# Die DA doen ‘n beroep op die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola om sy voortgesette bevordering van die ANC se mislukte ekonomiese transformasiebeleid te verduidelik. Die party sê in sy toespraak by die Black Business Council Donderdag, het Lamola swart professionele persone versoek om die rewolusie te verdedig. Ryan Smith van die DA sê ‘n beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging is reeds uitgewys as die verkeerde wetgewende voertuig om dit te bereik:
# Die EFF het die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie, Xola Nqola, versoek om ‘n dringende vergadering met die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging en minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, te belê. Dit volg na kommerwekkende uitsprake deur die direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi oor die infiltrasie van die Vervolgingsgesag en individue binne en buite die NVG wat die werk van die vervolgingsgesag ondermyn. Die EFF sê die gevolge van Batohi se verklaring kan nie gering geskat word nie.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, woon vandag die derde VN-Oseanekonferensie in Nice, Frankryk, by. Die konferensie wil wêreldwye optrede versnel om oseane te bewaar en volhoubaar te gebruik Dit ondersteun Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 14: ‘Lewe Onder Water’. Die departement se woordvoerder, Thobile Zulu-Molobi, sê die tema van die konferensie is gerig op versnelde optrede deur almal om oseane te bewaar en volhoubaar te gebruik ter bevordering van multilaterale oseaanprosesse, en meer geld vir oseaanvolhoubaarheid en blou ekonomieë:
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê sy oorweeg dit om te staan as burgemeester van Johannesburg in volgende jaar se plaaslike-regeringsverkiesing. Volgens berigte die naweek is sy in gesprek met haar familie oor die aanvaarding van die benoeming. Zille was van 2007 tot 2015 DA-leier en het vir twee vyfjaartermyne as premier van die Wes-Kaap gedien. Sy was ook van 2006 tot 2009 die burgemeester van Kaapstad. Die ANC-streeksekretaris, Sasa Manganye sê die DA het ‘n geleentheid gehad om Johannesburg te regeer, maar hulle het misluk.
# Die goewerneur van Kalifornië, Gavin Newsom, sê die ontplooiing van tweeduisend lede van die National Guard in Los Angeles oor die naweek is doelbewus opruiend. Hy waarsku dat dit die spanning net sal laat toeneem. President Donald Trump het die soldate in Los Angeles ontplooi te midde van betogings teen klopjagte deur Immigration Customs Enforcement of ICE. Newsom het die immigrasie-klopjagte gekritiseer en die Trump-administrasie beskuldig dat hulle chaos saai sodat hulle ‘n verskoning kan hê om die optrede te verskerp. Die Withuis sê die klopjagte is noodsaaklik om die intog van onwettige immigrante te stop en om te keer.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Evan Roos by die oefengroep gevoeg wat voorberei vir komende internasionale wedstryde. Die 25-jarige het laas in 2024 in die Groen en Goud gespeel toe hy teen Portugal in Bloemfontein uitgedraf het. Roos se insluiting vergroot nou die groep tot 55 spelers, wat gister in Johannesburg byeengekom het. Die Bokke sal hul seisoen op 28 Junie teen die Barbarians in Kaapstad afskop. Dit sal gevolg word deur agtereenvolgende toetse teen Italië in Pretoria en Gqeberha, en Georgië in Nelspruit in Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-706-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….