Nuus 06:00
BULLETIN 4 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê belasting moet deur parlementslede goedgekeur word
# Tongaat Hulett stel ‘n nuwe uitvoerende hoof aan
# En tennis: Dis Swiatek teen Sabalenka vir ‘n plek in die eindstryd van die Franse Ope
# Die EFF sê hulle sal hul parlementêre verteenwoordiging gebruik om te verhoed dat die Nasionale Tesourie in die toekoms belasting sonder behoorlike demokratiese toesig instel. Dit volg nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die party se aansoek teen die brandstofheffingverhoging met koste van die hand gewys het. Die verhoging van 16-sent per liter vir petrol en 15-sent per liter vir diesel het reeds in werking getree. Omphile Maotwe van die EFF sê belasting moet deur parlementslede goedgekeur word:
# Floyd Shivambu van die MK-party het belowe om sy nuwe rol in die Parlement te gebruik om die party voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing en die algemene verkiesing in 2029 te versterk. Sy herontplooiing volg na ‘n dissiplinêre besluit oor ‘n ongemagtigde reis na Malawi, waar hy die voortvlugtige Shepherd Bushiri se kerk in April besoek het. Dit volg na berigte van groeiende spanning tussen hom en voormalige president Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla. Shivambu sê die verantwoordelikheid van sy nuwe rol stem hom nederig:
# Tongaat Hulett het Gavin Dalgleish aangestel as uitvoerende hoof om die finale fase van sy sakereddingsplan te lei. Dalgleish, in die suikerbedryf bekend as omdraaispesialis, sal die maatskappy se oorgang lei na die Vision-groep, die nuwe eienaars. Sy leierskap sal na verwagting stabiliteit en kontinuïteit verseker. Tongaat sê die sakereddingsplan vorder goed. Alle uitleen-verpligtinge is nagekom, en bate-oordragte is byna voltooi.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile sê die regering benodig ‘n reeks maatreëls om voorsieningsbestuur en algemene finansiële bestuur in die provinsie om te keer. Hy het gister opnuut die provinsiale begroting vir die 2025/2026-boekjaar ingedien, met inkomste wat van 171,5-miljard-rand tot 172,3-miljard-rand gestyg het. Veranderinge moes aangebring word om dit te rig volgens gewysigde nasionale toewysings. Maile sê 50-miljoen-rand is toegeken aan die kantoor van die premier vir die tweede fase van die Nasi Ispani-program:
# Suid-Afrika se Departement van Handel en die Ministerie van Handel in Lesotho het ooreengekom om handels- en beleggingsamewerking te versterk. Die ooreenkoms volg ná ‘n vergadering in Pretoria tydens Lesotho se week lange studiebesoek oor handelsraamwerke. Sleutelfokuspunte vir samewerking sluit inheemse plante, oorgrenswaardekettings en die benutting van handelsooreenkomste soos dié tussen die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Europese Unie in. Albei lande het hulle ook weer verbind tot die bevordering van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, met die fokus op sektore soos tekstiel, motorvoertuie, skoonheidsmiddels en landbou.
# Tennis: Iga Swiatek het na die halfeindronde by Roland Garros deurgedring na ‘n oorwinning in skoonstelle oor die 13de gekeurde Elina Svitolina. Swiatek het die voormalige wêreldnommer-drie met 6-1, 7-5 geklop en probeer om ‘n rekord van 102 jaar te ewenaar deur vier agtereenvolgende Franse Ope-titels te wen. Die vyfde gekeurde Pool sal teen die wêreldnommer-een Aryna Sabalenka van Belarus in die halfeindronde te staan kom nadat Sabalenka vroeër die Olimpiese kampioen Zheng Qinwen in die kwarteindronde geklop het. Die twee het nog nooit op Roland Garros ontmoet nie, maar Swiatek het hulle laaste twee wedstryde op klei gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-529-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….