Nuus 06:00
BULLETIN 14 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die oorwinning oor armoede is nie ‘n daad van liefdadigheid nie, maar van geregtigheid
# Donald Trump sê die VSA gaan sy versperring van Iranse hawens herstel
# En rugby: Rassie wil steeds elke speler in die span ‘n kans gee om homself te bewys
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika versoek om Nelson Mandela Internasionale Dag te gebruik om weer te fokus op pogings om armoede en ongelykheid te bekamp. Mandela-dag word op 18 Julie herdenk ter ere van die oorlede oudpresident se verjaardag en ‘n oproep om 67 minute aan diens af te staan. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa dat dit vir Madiba duidelik was dat die oorwinning van armoede nie ‘n daad van liefdadigheid is nie, maar van geregtigheid. Hy sê geen nasie kan ongelykheid alleen oorwin nie. Gekoördineerde multilaterale optrede gewortel in solidariteit is nodig.
# Die Openbare Beleggingskorporasie het sy uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, voorlopig geskors. Dit volg op ‘n geskil oor die Lanseria-lughawe-belegging en bewerings dat PwC sonder die goedkeuring van die direksie aangestel is om ‘n forensiese ondersoek na die transaksie te doen. Dlamini moet pa-staan vir ‘n eis van 900-miljoen-rand wat deur die sakeman Kagiso Matjila in die Gautengse Hooggeregshof ingedien is. Daar word aangevoer dat Dlamini buite sy aangewese magtiging opgetree het deur die ondersoek in te stel nadat ‘n finale toekenning reeds betaal is. Die OBK hou toesig oor 3,6-duisend-miljard-rand in staatspensioen- en maatskaplike versekeringsfondse.
# Voormalige eThekwini-burgemeester en voormalige ANC-streekvoorsitter, Zandile Gumede, het by die MK-party aangesluit en is as die party se adjunkprovinsiale sameroeper in KwaZulu-Natal aangestel. Gumede en 21 medebeskuldigdes staan tans tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met ‘n Durbanse vaste-afvaltender van 320-miljoen-rand. Die sekretaris-generaal van MK, Sibonelo Nomvalo, het die aanstelling tydens ‘n media-inligtingsessie in Durban aangekondig, waar die party ook die suksesvolle voltooiing van sy benoemingsproses van wyksraadslede bevestig het:
# Die vakbond Solidariteit het sy regspan opdrag gegee om hofstukke te finaliseer wat die Stad Tshwane se skorsing van die stadsbestuurder Johann Mettler betwis. Die vakbond voer aan die besluit is onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik, en beweer die skorsing is polities gemotiveerd. Anton van der Bijl van Solidariteit sê die vakbond wil hê die skorsing moet tersyde gestel word nadat die stad geweier het om sy besluit om te keer ten spyte van vroeëre waarskuwings van regstappe.
# President Donald Trump sê die VSA gaan sy versperring van Iranse hawens in die Straat van Hormoes onmiddellik herstel. Dit volg nadat die VSA en Iran oor die naweek voortgegaan het om mekaar wedersyds aan te val, wat die memorandum van ooreenkoms wat verlede maand onderteken is, in gevaar stel. Trump het aan Fox News gesê die VSA is die “bewaker” van die noodsaaklike waterweg en sal ‘n heffing van 20-persent op alle vrag wat verskeep word hef, om die koste van veiligheid en sekuriteit te dek. Hy sê die Straat sal oop bly:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus wil steeds elke speler in sy uitgebreide groep die kans gee om te bewys wat hy op die hoogste vlak kan doen. Hy het verskeie veranderings aangebring aan sy groep vir Saterdag se Nasieskampioenskapstoets in Durban. Die stut Carlu Sadie, die slot Ruben van Heerden, die vleuel Jaco Williams en die losskakel Vusi Moyo sal hul eerste buiging vir die span maak. Erasmus sê hy is opgewonde om te sien wat die nuwelinge kan doen, asook die spelers wat ‘n ruk lank nie toetsrugby gespeel het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-836-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-1-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….