Nuus 06:00
BULLETIN 3 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party gaan teen die Hooggeregshof-uitspraak teen John Hlophe appelleer
# Tiener-damprook dra by tot groeiende nikotienverslawing
# En die Duitse polisie begin ‘n nuwe soektog na Madeleine McCann
# Die MK-party gaan appelleer teen die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof oor voormalige regter John Hlophe. Die party sê dit is ‘n bespotting van geregtigheid. Die hof het beslis die aanwysing van Hlophe as lid van die Regterlike Dienskommissie deur die Nasionale Vergadering was ongrondwetlik en ongeldig. Die nasionale woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela, sê dit maak die verkiesing van openbare verteenwoordigers ‘n nuttelose oefening as onverkose regters die wil van die mense kan omverwerp:
# Die voorsitter van die Parlement se Portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging, Mzwandile Masina, sê Starlink is nie die enigste manier om internettoegang in Suid-Afrika uit te brei nie. Masina se kommentaar volg ná ‘n openbare debat oor Starlink se nakoming van plaaslike eienaarskapwette. Masina het klem gelê op die behoefte om ‘n reeks tegnologieë te ondersoek wat die digitale gaping sal oorbrug. Hy is van mening transformasie en inklusiwiteit in die tegnologiesektor bly nasionaal uiters belangrik, veral met die groeiende aanvraag na ‘n bestendige landelike netwerk.
# Die adjunkminister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê die verheerliking van damprook en gegeurde tabakprodukte veroorsaak ‘n gevaarlike toename in nikotienverslawing onder tieners. Hy het tydens Wêreld Geen Tabakdag in Midrand onthul dat een uit elke vyf hoërskoolleerders damprook. Phaahla het beklemtoon dat hierdie neiging gesondheid op die lange duur bedreig. Hy het beklemtoon dat die Tabakbeheerwetsontwerp daarop gemik is om damprook met strenger regulasies te beperk:
# ‘n Vyftig-jarige sangoma van Lesotho, Sebokoana Khounyana, het in die Landdroshof in Vanderbijlpark verskyn vir die moord met voorbedagte rade en mensehandel van die twee-jarige Kutlwano Shalaba. Die kind se ma, Kuneuwe Shalaba, staan ook tereg op ‘n aanklag van moord. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die kind is vergiftig en in ‘n vlak graf begrawe. Sy het bevestig borgtog is teengestaan vir beide beskuldigdes en die saak is tot Donderdag uitgestel:
# Duitse polisie sê hulle sal vandag met ‘n nuwe soektog na Madeleine McCann in Portugal begin. Sy was drie jaar oud toe sy verdwyn het terwyl sy op 3 Mei 2007 saam met haar gesin by die Praia da Luz-oord met vakansie was. Die soektog sal die eerste in twee jaar wees. Haar ouers, Kate en Gerry McCann, wat verlede maand die 18de herdenking van hul dogter se verdwyning herdenk het, het belowe om nooit op te hou soek na haar nie. Dit is een van die prominentste onopgeloste vermiste-persoonsake ter wêreld.
# Motorsport: Die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen, het erken dat sy frustrasie daartoe gelei het dat hy in Mercedes se George Russell vasgery het tydens die laaste rondtes van die aksiebelaaide Spaanse Grand Prix. Verstappen het Russel en die Ferrari-bestuurder, Charles Leclerc, aanvanklik blameer, maar het op sosiale media erken sy optrede was onvanpas. Die voorval het vyf rondtes voor die einde plaasgevind, kort nadat die wedren hervat is. Verstappen het onmiddellik die derde plek aan Ferrari se Charles Leclerc afgestaan en van die baan af gejaag terwyl hy probeer verhoed het dat Russell hom verbysteek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-917-dollar-90-sent. Die prys van goud is drie-duisend-385-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….