Nuus 06:00
BULLETIN 2 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party veroordeel ‘n energietender van nege-miljard-rand
# Forum for South Africa vra vir die herinstelling van die doodstraf
# En motorsport: Oscar Piastri wen die Spaanse Grand Prix
# Die MK-party het ‘n onlangse tender van nege-miljard-rand onder die Battery-energiestoorprogram gekritiseer en dit as gemanipuleer en korrup beskryf. Slegs Mulilo en Scatec het tenders gewen, wat gelei het tot MK se eis vir tenderrekords binne sewe dae. Die nasionale woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela, verwys na die voormalige Eskom-bedryfshoof Jan Oberholzer se bande met Mulilo en beweer buitelandse kaping van SA se energiesektor. Hy doen ‘n beroep op ‘n volledige parlementêre ondersoek na die tenderproses:
# Forum for South Africa het formeel ‘n voorstel by die Parlement ingedien waarin hulle die hersiening van Artikel 11 van die Grondwet aanvra om die herinstelling van die doodstraf moontlik te maak. Tebogo Mashilompane, van die forum voer aan dat stygende moordsyfers, veral op vroue en kinders, strenger strawwe vereis. Met verwysing na openbare steun en toenemende misdaad, sê hy om slagoffers beter teen oortreders te beskerm moet die Grondwet die realiteite van 2025 weerspieël, nie die ideale van 1996 nie:
# Die Gauteng-polisie sê hulle soek drie verdagtes in verband met die moord op die adjunkhoofsweep van die IVP, Khethamabala Petros Sithole. Hy is Saterdag in ‘n skietery by die Buyafuthi-hostel in Katlehong aan die Oos-Rand dood. Sy party het die moord as ‘n sluipmoord bestempel. Die provinsiale polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê ‘n groep mans was besig met ‘n vergadering by die hostel toe drie onbekende mans op die groep losgebrand het en een persoon doodgeskiet en twee gewond het:
# Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê hy is gretig om saam met die pas gekose president van die Afrika-Ontwikkelingsbank, Sidi Ould Tah te werk. Die ervare Mauritaanse ekonoom het tydens die bank se jaarlikse vergaderings in Abidjan, Ivoorkus, 76-persent van die stemme verwerf. Hy sal amptelik op 1 September 2025 in die amp begin en volg Akinwumi Adesina van Nigerië op. Godongwana het die belangrikheid van Tah se leierskap in die bevordering van Afrika se ontwikkelingsagenda te midde van wêreldwye finansiële uitdagings beklemtoon.
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het sy voorsprong in die jaerskampioenskap oor sy spanmaat Lando Norris tot tien punte vergroot, nadat hy die Spaanse Grand Prix gewen het. Norris het tweede geëindig met Charles Leclerc van Ferrari derde. Die heersende wêreldkampioen, Max Verstappen van Red Bull, wat by ‘n reeks voorvalle betrokke was, het vyfde klaargemaak, maar tot tiende teruggesak as gevolg van ‘n tien-sekonde straf vir die botsing met George Russell van Mercedes. Piastri sê hy is tevrede met die wedren:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-730-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-312-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Ster-Kinekor, Suid-Afrika se grootste teatergroep, sluit vandag sy Cavendish Square-teater in Kaapstad na die verstryking van ‘n huurkontrak. Sy Gateway-teater in Umhlanga het vroeër vandeesmaand gesluit. Die maatskappy verskuif sy fokus na e-speletjies en opvoedkundige programme om relevant te bly. Uitvoerende hoof, Mark Sardi sê innovering is die sleutel. Mededinger Nu Metro sal na die ontruimde persele trek om te verseker dat fliekgangers steeds rolprente kan geniet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….