Nuus 06:00
BULLETIN 29 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van SKOOR sê die Padongelukkefonds is buite beheer
# Die drie veroordeeldes in die Joshlin Smith-saak word vandag gevonnis
# En krieket: Australië begin voorberei vir die Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd teen Suid-Afrika
# Die voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, sê die skorsing van Collins Letsoalo, uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, dui op ‘n instelling wat buite beheer is. Letsoalo is op spesiale verlof geplaas tydens ‘n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid na beweerde finansiële wanbestuur en korrupsie. Zibi het aan Newzroom Afrika gesê Letsoalo het nog nooit voor die finansieskomitee verskyn nie. Hy beskryf dit as uiters kommerwekkend en uittartend teen wetgewende toesig:
Die Organisasie teen Belastingmisbruik eis intussen ‘n volledige hersiening van die leierskap by die Padongelukkefonds ná ernstige bewerings van onreëlmatige besteding teen sy uitvoerende hoof. Dit volg te midde van bewerings van 362-miljoen-rand in onreëlmatige besteding. Stefanie Fick van OUTA sê Letsoalo is voorheen afgedank by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika en het nou weer misluk in ‘n leierskapsrol:
# Die Stad Tshwane en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het kragte saamgesnoer om sy Reclaim Our City se verordeningswerksaamhede te versterk. Dit volg ná ‘n strategiese vergadering met die SAID en die Interagentskaps-werkgroep oor Onwettige Handel. Die veldtog is daarop gemik om teen onwettige ondernemings te veg en inwoners te beskerm. Die vennootskap sal ook die stad se bestuur ondersteun, korrupsie verminder en ekonomiese bestendigheid verbeter met versterkte gesamentlike operasies wat belangrike wetstoepassingsagentskappe insluit.
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof, wat in Saldanhabaai sit, sal vandag die drie wat skuldig bevind is in Joshlin Smith se ontvoering- en mensehandel-saak vonnis. Joshlin se ma, Kelly, en twee van haar medebeskuldigdes, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn, is in April skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel in verband met die meisie se verdwyning. In ‘n slagoffer-impakverklaring het Joslin se ouma, Amanda Daniels, haar dogter daarvan beskuldig dat sy nie verantwoordelikheid geneem het nie. Sy sê sy nie sal rus totdat haar kleindogter gevind is nie.
# ‘n Voormalige Franse chirurg, Joël Le Scouarnec, is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die seksuele aanranding van 299 van sy pasiënte, meestal kinders onder die ouderdom van 15 jaar. Die 74-jarige, wat as Frankryk se aktiefste pedofiel bestempel is, het erken dat hy al die slagoffers seksueel misbruik het, baie terwyl hulle onder narkose was of ná operasies wakker geword het. Le Scouarnec dien reeds ‘n vonnis van 15 jaar tronkstraf uit vir die verkragting en seksuele aanranding van vier kinders, insluitend twee van sy niggies.
# Krieket: Australië se groep vir volgende maand se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Suid-Afrika in Londen het met ‘n spanboukamp in die Britse hoofstad begin. Die spanbou sal gevolg word deur gefokusde oefening voordat die wedstryd op 11 Junie by Lord’s begin. Afrigter Andrew McDonald het die afgelope tyd as ‘n deurmekaar gemors beskryf met sommige spelers wat tuis was en ander wat graafskapskrieket gespeel het, terwyl die week lange opskorting van die Indiese Premierliga ook ‘n invloed gehad het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-18-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-962-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-263-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….