Nuus 06:00
BULLETIN 22 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Trump lei president Ramaphosa in ’n lokval in die Withuis
# ‘n Toekenning van 180-miljard-rand sal openbare infrastruktuur ‘n hupstoot gee
# En rugby: Die Bokke begin vandag hul laaste belyningskamp in Kaapstad
# Die Amerikaanse president Donald Trump het president Cyril Ramaphosa gister tydens ‘n vergadering in die Withuis in ‘n lokval gelei deur video’s te speel wat volgens hom verband hou met bewerings van volksmoord in Suid-Afrika. Die geredigeerde videomontage wys die EFF-leier Julius Malema wat “Kill the Boer” sing. Trump sê wit Suid-Afrikaners vlug weens die geweld en rassistiese wette in die land:
Ramaphosa het tydens die Withuis-vergadering herhaal dat daar geen wit volksmoord in Suid-Afrika is nie. Hy het gesê mense wat in die land vermoor word, is nie net wit nie. Hy het ook die Onteieningswet verduidelik:
# Minister van Finansies, Enoch Godongwana, het aangekondig dat ‘n bykomende 180-miljard-rand in besteding oor die medium termyn gefokus sal word op kritieke sektore, insluitend onderwys. Na die lewering van Begroting 3.0 het Godongwana die toewysings uitgelig as deel van ‘n breër belegging van 1,03-duisend-miljard-rand in openbare infrastruktuur oor drie jaar. Hy het beklemtoon dat dit daarop gemik is om ekonomiese groei te stimuleer en dienslewering te verbeter:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sal stadsamptenare en lede van die burgemeesterskomitee lei in ‘n veldtog wat gekaapte geboue in Pretoria-Wes teiken, onder die Herwin Ons Stad-inisiatief. Moya sal ook ‘n vorderingsverslag oor die laaste ses maande aanbied wat belangrike kwessies dek, insluitend loongeskille, onwettige dorpsgebiede, dienslewering, gevolgbestuur en die stad se gereedheid vir stedelike-20-inisiatiewe.
# Drie leerders en twee volwassenes is dood, en minstens 38 mense gewond in ‘n selfdoodaanval op ‘n skoolbus in die suidweste van Pakistan. Amptenare sê die jongste aanval beklemtoon die verslegtende veiligheidsituasie in die gebied. Die ontploffing in Khuzdar in die provinsie Balochistan het ‘n skoolbus met militêre amptenare se kinders geteiken. Pakistan se Weermag gee Indiese verteenwoordigers die skuld vir die aanval. Spanning tussen die twee lande het in ‘n konflik van vier dae ontaard ná die onlangse slagting van toeriste in Kasjmir. ‘n Brose wapenstilstand word sedertdien gehandhaaf.
# Rugby: Die Springbokke begin vandag hul tweede en laaste belyningskamp vir die internasionale seisoen in Kaapstad. Ses-en-dertig spelers sal die kamp fisies bywoon, en 18 oorsese spelers sal virtueel aansluit. Suid-Afrika se eerste toets van die jaar is op 28 Junie teen die Barbarians in Kaapstad. Dit word gevolg word deur toetse teen Italië in Pretoria en Gqeberha, en een teen Georgië in Mbombela voor die aanvang van die Rugbykampioenskap teen Argentinië, Australië en die All Blacks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-921-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….