Nuus 06:00
BULLETIN 13 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika moet verbind bly aan die vreedsame oplossing van konflik
# Toerismegroei bly sterk te midde van die immigrasiebetogings
# En rugby: Rassie Erasmus slaak ‘n sug van verligting na die oorwinning teen Skotland
# President Cyril Ramaphosa sê die gevolge van oorlog herinner almal daaraan dat leiers ‘n diepgaande verantwoordelikheid het om vrede na te streef. Hy het gister die 110de herdenking van die Slag van Delvillebos by die Suid-Afrikaanse Gedenkteken in Longueval, Frankryk, bygewoon. Dit het die moed en opoffering van Suid-Afrikaanse soldate vereer wat tydens die Slag van Delvillebos in Julie 1916 geveg het. Ramaphosa sê die Eerste Wêreldoorlog is gebore uit militarisme, imperiale wedywering, nasionalisme en die mislukking van diplomasie. Hy sê Suid-Afrika moet verbind bly aan die vreedsame oplossing van konflik.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika se toerismesektor bly groei ondanks voortdurende immigrasiebetogings. Sy sê die land het meer as 4,7-miljoen besoekers tussen Januarie en Mei verwelkom, ‘n toename van 12,8-persent in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Besoekersgetalle van die Afrika-kontinent het ook met ses-persent in Mei gestyg. De Lille sê die regering gaan voort om streekvennote te betrek, aangesien immigrasie steeds ‘n groot uitdaging is:
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala sal na verwagting vandag die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in kennis stel of hy ‘n voorgestelde vonnis van 12 jaar tronkstraf in die SAPS-Medicare24-tenderbedrogsaak van 288-miljoen-rand aanvaar of verwerp. Landdros Ignatius Petrus du Preez het ‘n vorige pleitooreenkoms vir ‘n effektiewe termyn van agt jaar verwerp en gesê dit is te toegeeflik. Indien Matlala die hersiene ooreenkoms van die hand wys, kan die pleitooreenkoms in duie stort en die saak tot verhoor oorgaan. Hy sal na verwagting ook hierdie week voor die Madlanga-kommissie getuig.
# ‘n News24-ondersoek het vrae laat ontstaan oor Ekurhuleni se chemiese-toilettenders van miljarde rand. Die ondersoek kyk na ‘n maatskappy wat bande het met ‘n voormalige kontak van die EFF-leier Julius Malema, en na bewering voordeel getrek het uit kontrakte ter waarde van ongeveer 1,6-miljard-rand. Die verslag vorm deel van ‘n breër ondersoek na die munisipaliteit se sanitasieooreenkomste, insluitend kommer oor tenderprosesse en toesig. Owerhede en betrokke partye is versoek om deursigtig te wees, terwyl die ondersoek na beweerde onreëlmatighede voortduur.
# President Donald Trump het hulde gebring aan die Republikeinse senator en sy nabye bondgenoot, Lindsey Graham, wat oor die naweek oorlede is. Die 71-jarige het na bewering ‘n hartaanval by sy huis op Capitol Hill gehad. Hy het sedert 2003 in die Senaat gedien, waar hy Suid-Carolina verteenwoordig het, en het in November vir herverkiesing gestaan. Graham het pas teruggekeer van Oekraïne, waar hy president Volodymyr Zelensky verlede Vrydag ontmoet het. Trump het aan CNN gesê Graham is ‘n ware Amerikaanse Patriot wat baie gemis sal word:
# Rugby: Die Bokke se hoofafrigter Rassie Erasmus slaak ‘n sug van verligting na ‘n Springbok-span met baie veranderinge gesukkel het deur hul Nasieskampioenskap-wedstryd teen Skotland op Loftus. Terwyl die Bokke met 42-28 gewen het, sê Erasmus die span het gewys waar die gapings is en wat geleer moet word. Hy sê dit is baie lekkerder as jy wen en leer as wanneer jy verloor, en leer. Hy sê hulle het geweet samehorigheid sou ‘n probleem wees met 12 spelers wat minder as tien wedstryde elk in Bok-truie gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-772-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-83-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….