Nuus 06:00
BULLETIN 17 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê alles is reg vir die heropening van skole
# Die Outomobiel Assosiasie waarsku oor ‘n negatiewe vooruitsig vir brandstofpryse in Februarie
# En krieket, die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes kritiseer die verwydering van die onder-19-kaptein
# Die Departement van Basiese Onderwys sê alles is in plek vir die terugkeer van leerders vandag na klaskamers regoor die land. Anders as vorige jare, sal alle staatskole aan die kus en in die binneland op dieselfde dag heropen. Minister Angie Motshekga word vandag vergesel deur die Gautengse premier Panyaza Lesufi en die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, na die oorhandiging van die Kgatoentle Sekondêre Skool in Tshwane-Wes. Die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, verduidelik waarna hulle kyk om te bepaal of skole vir die nuwe akademiese jaar gereed is:
Intussen het die Padverkeers-bestuurskorporasie aan die begin van die nuwe skooljaar ‘n beroep op leerdervervoer-operateurs gedoen om voorkeur te gee om padwaardige voertuie. Woordvoerder Hlobisile Ngcongo beklemtoon die uiterste noodsaaklikheid daarvan dat voertuie aan alle veiligheidstandaarde voldoen, om ongelukke te voorkom. Ngcongo benadruk ook die belangrikheid van behoorlike ruitveërs en werkende ligte, veral te midde van reënval wat vir baie gebiede voorspel is. Die korporasie sê padveiligheid is uiters belangrik.
# Die Outomobiel Assosiasie waarsku oor ‘n negatiewe vooruitsig vir brandstofpryse volgende maand. Ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds dui op moontlike verhogings in alle brandstofpryse, behalwe lampolie. Die AA verwag ‘n verhoging van sowat 11-sent in die prys van 95-oktaan petrol, en 14-sent vir 93-oktaan. Dieselpryse kan met nege-sent per liter styg, en lampoliepryse kan met drie-sent daal. Die swakker rand dra by tot die verwagte verhogings, terwyl bestendige internasionale oliepryse ‘n invloed het op die prys van lampolie.
# ‘n Koalisie van 23 hulporganisasies wat binne die Golfstaat werksaam is, het gewaarsku dat militêre opbou hul vermoë om kritieke dienste in Jemen te lewer, verder gaan belemmer. Dit volg nadat Amerika en Brittanje verlede week lugaanvalle op Houthi-militêre teikens uitgevoer het, nadat hulle in November verlede jaar begin het om vragskepe in die Rooi See aan te val. In reaksie op die aanvalle moes sommige humanitêre organisasies noodgedwonge hul bedrywighede opskort weens veiligheids- en sekuriteitsoorwegings. Ongeveer 21-miljoen Jemeniete, of twee-derdes van die bevolking, steun op hulp om te oorleef.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het Krieket Suid-Afrika skerp gekritiseer oor die verwydering van David Teeger as die kaptein van SA se Onder-19-span. Die KSA het die besluit geregverdig deur kommer oor veiligheid en moontlike versetoptrede oor die Gaza-konflik tydens die komende Wêreldbekertoernooi. Die krieketraad voer aan hy gee voorkeur aan spelerveiligheid, gegrond op sekerheidsverslae. Karen Milner van die Joodse Raad beskou die stap as anti-Semitisme en beweer Teeger se verwydering laat kommer ontstaan oor diskriminasie gegrond op godsdienstige of kulturele agtergrond:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-957-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-29-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-69-sent per vat.
# En om mee af te sluit, president Cyril Ramaphosa het die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah gelukgewens met die Emmy wat hy gewen het. Hy het die toekenning vir ‘n uitstaande geselsprogram ontvang vir The Daily Show with Trevor Noah. Noah het met die oorwinning geskiedenis gemaak as die eerste swart persoon uit Afrika wat ‘n Emmy vir ‘n uitstaande geselsprogram gewen het sedert die kategorie se bekendstelling in 2015. Ramaphosa sê Noah is deel van ‘n uitmuntende groep sterre uit Suid-Afrika wie se uiteenlopende talente wêreldwyd geniet en waardeer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….