Nuus 06:00
BULLETIN 20 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering het ’n gevorderde herstelbeleid
# Julius Malema sê die begrotingsrede sal geen werklike planne bevat nie
# En Suid-Afrikaners word aangespoor om ‘n hond aan te neem op Wêreld-reddingshonddag
# President Cyril Ramaphosa sê die hantering van gruweldade van die verlede is een van die moeilikste take wat ‘n nasie kan aanpak. In sy weeklikse nuusbrief sê hy Suid-Afrika het met die verlede geworstel in belang van maatskaplike samehorigheid en nasiebou. Hy neem kennis van die wreedheid wat bevrydingsaktiviste soos die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, advokaat Duma Nokwe moes verduur. Ramaphosa sê die regering bevorder ‘n beleid van herstel en regstelling om die geskiedkundige onreg van apartheid te erken en reg te stel.
# Die EFF-leier Julius Malema glo die begrotingsrede van die minister van Finansies, Enoch Godongwana sal sonder planne vir werkskepping, ekonomiese groei of ondersteuning vir staatsondernemings wees. Na ‘n begrotingsdooiepunt van twee maande het die minister verlede maand sy voorstel vir ‘n verhoging van BTW teruggetrek. Hy sal Woensdag begroting 3.0 ter tafel lê. Malema sê Godongwana moet voorstelle vermy wat die meerderheid burgers finansieel sal belas:
# Die Gautengse Departement van Onderwys veroordeel die gewelddadige aanranding van ‘n mede-leerder in Bedfordview High School waarby sewe meisies van vier skole betrokke was. Die aanval, wat verlede week in Yeoville plaasgevind het, is op ‘n video vasgelê en wyd op sosiale media gedeel. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die betrokke leerders is geskors en het in die Landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van aanranding:
# Suid-Afrika en Nederland het ’n gesamentlike kommissie-ooreenkoms in Den Haag onderteken tydens die vierde vergadering van die gesamentlike samewerkingskommissie. Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, en die Nederlandse minister van Buitelandse Sake, Caspar Veldkamp, het bilaterale betrekkinge versterk. Die lande het onder meer Oekraïne, Palestina, Suid-Afrika se G20-voorsitterskap en klimaats-projekte bespreek. Sleuteluitkomste sluit in ’n bydrae van een-miljard-rand tot Suid-Afrika se Groen Waterstoffonds en voortgesette samewerking in landbou, handel, waterbestuur en wetenskap. Die lande het hul verbintenis tot multilaterale samewerking en die aanpak van wêreldwye uitdagings herbevestig.
# Rugby: ’n Gekombineerde Australiese en Nieu-Seelandse span sal vanjaar vir die eerste keer sedert 1989 teen die Britse en Ierse Leeus te staan kom. Die span word afgerig deur Les Kiss, wat volgende jaar by Joe Schmidt oorneem as afrigter van die Wallabies. Die wedstryd sal op 12 Julie in Adelaide, Australië, gespeel word. Die Leeus se toer deur Australië, wat drie toetse teen die Wallabies en ses ander wedstryde insluit, begin op 28 Junie en eindig op 2 Augustus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-607-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-221-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is vandag Wêreld-reddingshonddag en dierewelsynsgroepe moedig Suid-Afrikaners aan om honde in skuilings aan te neem eerder as om troeteldiere te koop. Fiona Miles van FOUR PAWS sê meer as vier-miljoen-diere is haweloos en aanneming bied ‘n veilige hawe wat hulle huis kan word. Miles sê elke aanneming verlig die druk op skuilings en verander lewens. Sy het beklemtoon daar is niks fout met honde in skuilings nie, hulle wag bloot op ‘n tweede kans.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….