Nuus 06:00
BULLETIN 19 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Timothy Omotoso word vir vyf jaar uit Suid-Afrika verban
# Die botsing van ‘n Meksikaanse Vloot-opleidingskip met die Brooklyn-brug word ondersoek
# En motorsport: Max Verstappen seëvier in Imola, Italië
# Die Nigeriese televangelis Timothy Omotoso is vir vyf jaar uit Suid-Afrika verban ná sy deportasie gister. Verlede maand is hy vrygespreek op 32 aanklagte, insluitend verkragting, afpersing en mensehandel. Na bewering het hy ingestem tot vrywillige uitsetting. Die woordvoerder van die Departement van Binnelandse Sake, Siya Qoza, sê Omotoso is kragtens die Immigrasiewet tot ‘n verbode persoon verklaar, na aanleiding van sy onwettige teenwoordigheid in die land na sy vryspraak:
# Die MK-party het sy oproepe vir verpligte leefstyloudits en volle bateverklarings vir alle lede van die regsbank verskerp. Dit volg nadat die Kantoor van die Hoofregter drie amptenare geskors het te midde van ’n Valke-ondersoek na bedrog en korrupsie. Die MK-party waarsku teen ’n ontstellende kultuur van regsbankmisdrywe wat Suid-Afrika se regstelsel bedreig, en beklemtoon dat niemand, insluitend regters, bo die reg staan nie. Hulle dring aan dat streng toesig noodsaaklik is om die demokrasie te beskerm.
# Die Polisie-ministerie het die brutale moord op agt mense in Umlazi, KwaZulu-Natal, ten sterkste veroordeel en dit as ’n gruweldaad bestempel. Dit blyk dat die skietvoorval Vrydagaand in die U-seksie van die Durbanse township plaasgevind het. Die gebeure wat tot die skietery gelei het, is onbekend. Volgens die woordvoerder van die ministerie, Kamogelo Mogotsi, het die minister van Polisie, Senzo Mchunu ’n spesiale span aangewys om die moorde te ondersoek:
# Die Amerikaanse Vervoerveiligheidsraad het ‘n ondersoek van stapel gestuur na hoe ‘n Meksikaanse Vloot-opleidingskip Saterdagaand die Brooklyn-brug getref het en twee bemanningslede dood is. Volgens die owerhede was die skip, die Cuauhtémoc, met 277 mense aan boord, op pad na Ysland, toe dit krag verloor en die kaptein ‘n botsing met die brug nie kon vermy nie. Twee-en-twintig bemanningslede is beseer, elf van hulle kritiek, met nege in ‘n stabiele toestand. Die raad sê die skip se reisdata-opnemer kan kritieke inligting oor die ongeluk bevat.
# Motorsport: Red Bull se Max Verstappen het die Emilia-Romagna Grand Prix in Imola, Italië, gewen vir sy tweede oorwinning die seisoen. Die Nederlander het die renjaer in die voorste wegspringplek, Oscar Piastri se McLaren in die eerste rondte verbygesteek en die wedren oorheers. Lando Norris het tweede voor sy spanmaat Piastri geëindig, terwyl Ferrari se Lewis Hamilton en Williams se Alex Albon die top vyf voltooi het. Die uitslag beteken dat Piastri se voorsprong oor Norris tot 13 punte verminder word, terwyl Verstappen net 22 punte agter die Australiër is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-741-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-244-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC het hulde gebring aan die adjunkpresident van die party se Vroueliga, Lungi Mnganga-Gcabashe, en haar beskryf as ‘n dienaar van mense en ‘n vurige voorstander van vrede, vroue-emansipasie en waardigheid. Die 65-jarige is Saterdag oorlede. Ten tyde van haar dood was sy ook ‘n lid van die Parlement en die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Toerisme. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê Mnganga-Gcabashe laat ‘n kragtige nalatenskap van beginselvaste leierskap en nederigheid agter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….