Nuus 06:00
BULLETIN 16 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Finansies is vol vertroue oor die goedkeuring van Begroting 3.0
# Mynbouproduksie daal namate goud en platinum ineenstort
# En Zelensky sê Rusland is nie ernstig oor vrede nie
# Adjunkminister van Finansies, David Masondo, het die vertroue uitgespreek dat die komende nasionale begroting parlementêre goedkeuring sal verkry. Die vorige twee begrotings is verwerp weens onenigheid tussen koalisie-lede oor belastingbeleid. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana sal die hersiene begroting volgende Woensdag indien. Masondo het beklemtoon dat daar nie ’n “Begroting 4.0” sal wees nie, en dat die aangepaste begroting deeglike beraadslaging en kompromieë binne die regering van nasionale eenheid weerspieël. Hy het benadruk dat die begroting daarop gemik is om staatskuld te stabiliseer en ekonomiese groei te bevorder.
# ‘n Voormalige diplomaat en kenner van internasionale betrekkinge, Kingsley Makhubela, het die belangrikheid beklemtoon dat president Cyril Ramaphosa en die Amerikaanse president Donald Trump hul fokus plaas op die herstel van verhoudings. In ’n onderhoud met SABC News meen Makhubela dat Trump se regstreekse benadering tot onderhandelinge voordelig kan wees vir Afrika-lande, veral om toegang tot strategiese minerale bates te verseker. Hy sê ondanks vorige neerhalende opmerkings volg Trump nie ’n vyandige buitelandse beleid teenoor Afrika nie:
# Mynbouproduksie in Suid-Afrika het in Maart met 2,8-persent gedaal vergeleke met verlede jaar, hoofsaaklik weens skerp dalings in platinumgroepmetale en goud. Ystererts was die sterkste presteerder en het stewige groei getoon, met ‘n toename van 7,5-persent. Statistieke Suid-Afrika se woordvoerder, Juan-Pierre Terblanche, sê ten spyte van laer produksie, het mineraalverkope met 1,6-persent gestyg, gedryf deur hoër goud-, ystererts- en steenkool-verkope:
# Gauteng ANC Provinsiale Taakspan se mede-sameroeper, Panyaza Lesufi het die belangrikheid beklemtoon om kriminele sindikate vas te vat. Lesufi het tydens die Gauteng ANC Provinsiale Taakspan-vergadering aangekondig dat sowat 250 individue wat met ernstige misdade soos ontvoering, transito-rooftogte en moord verbind word, geïdentifiseer is. Hy het die provinsie se verbintenis tot die bevordering van openbare veiligheid deur geteikende optrede en die verbetering van dienslewering beklemtoon:
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky sê Rusland is nie ernstig oor vredesamesprekings nie, nadat sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, weggebly het van ‘n gesprek in Turkye. Kiëf en Moskou het sedert kort na Rusland se volskaalse inval in Februarie 2022 nog geen regstreekse gesprekke gevoer nie. Zelensky het beklemtoon sy land is nie die aggressor in hierdie oorlog nie, en sê hulle het aangebied om verskeie ooreenkomste deur verskillende diplomatieke kanale te sluit. Hy het verdere druk en meer sanksies teen Rusland versoek.
# Rugby: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die voormalige Springbok-vleuel Cornal Hendricks en gesê hy sal met trots en waardering onthou word. Die 37-jarige is Woensdagaand aan ‘n hartaanval oorlede. Hy het 12 toetse vir die Bokke gespeel en Boland, die Cheetahs en die Bulle verteenwoordig. Ramaphosa sê Hendricks het in sy jeug groot teenspoed oorkom om sy passie vir rugby uit te lewe. Hy sê Hendricks se lewe van persoonlike prestasie en maatskaplike invloed deur die Cornal Hendricks-stigting is te gou kortgeknip.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-768-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-240-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….