Nuus 06:00
BULLETIN 15 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar gaan nog twee regsgedinge teen die NGV-wet ingedien word
# Verskeie voertuie word herroep weens veiligheidsgebreke
# En Israel verskerp sy Gaza-aanvalle
# Die Raad van Gesondheidsorgfinansierders sê hulle gaan nog twee regsgedinge teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet indien. Die sake hou verband met die openbare deelnameproses vir die goedkeuring van die wetsontwerp deur die Parlement, en die grondwetlike reg op gesondheidsorg. Verlede week het die Gautengse Hooggeregshof president Cyril Ramaphosa gevra vir sy rekord van besluit om die NGV-wetsontwerp in Mei verlede jaar, ten spyte van besware goed te keur. Die raad sê die aansoeke word deur verslae gestaaf.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het verskeie voertuighandelsmerke en -modelle teruggeroep wat tussen 2014 en 2016 in Suid-Afrika verkoop is, meestal weens veiligheidsgebreke. Dit is die Jeep Wrangler en Chrysler 300c, Citroën se C4-, DS4- en DS5-modelle, Mercedes-Benz CLA- en S-klas-modelreekse, Audi e-tron GT-voertuie, die VW Polo-sedan en Volvo XC90. Prudence Moilwa van die kommissie sê die gebreke hou verband met lugsakke, asse, batterye en veiligheidsgordels:
# Die DA het die Stad Johannesburg met hofdokumente laat bedien oor die onwettige verlenging van waarnemende aanstellings in senior posisies. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê sewe amptenare, insluitend die waarnemende stadsbestuurder, Tshepo Makola, het die wettige waarnemingstermyn van drie-maande oorskry. Sy dring daarop aan dat die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, moet ingryp en waarsku dat verdere hofstappe sal volg as regstellings nie teen môre gedoen is nie:
# AfriForum se privaat vervolgingspan het ingegryp om die opsigter van Bergview College in Matatiele in die Oos-Kaap te help wat gedreig en aanlyn beskuldig word van die beweerde verkragting van die sewejarige Cwecwe by die skool verlede jaar. Die span sê daar is geen bewyse wat hom of die hoof, Jaco Pieterse met die beweerde misdaad verbind nie. Barry Bateman van AfriForum sê die polisie het DNA-monsters van die opsigter geneem, maar hy is nooit amptelik as ’n verdagte beskou nie:
# Gesondheidsowerhede in Gaza sê minstens 70 Palestyne is gister dood in Israelse militêre aanvalle toe bomaanvalle verskerp is terwyl die Amerikaanse president Donald Trump die Midde-Ooste besoek. Reuters haal mediese personeel aan wat sê die meeste van die slagoffers, insluitend vroue en kinders, is dood in ‘n stortvloed Israelse lugaanvalle op huise in die Jabalia-gebied in die noorde. Die ministerie van Gesondheid sê in ‘n verklaring van die slagoffers was onder paaie en puin vasgekeer waar reddings- en burgerlike noodspanne hulle nie kon bereik nie.
# Krieket: Die Bangladesjiese snelbouler Mustafizur Rahman gaan Jake Fraser-McGurk in by Delhi Capitals vervang vir die res van die Indiese Premierliga nadat die Australiese kolwer besluit het om nie terug te keer wanneer die kompetisie Saterdag hervat nie. Rahman het ook in 2022 en ’23 vir Delhi gespeel en altesaam 61 paaltjies in die IPL geneem. Fraser-McGurk se onttrekking volg op dié van die Engelse bouler Jamie Overton van Chennai Super Kings, terwyl verwag word dat nog spelers gaan onttrek omdat die nuwe skedule met ander verpligtinge bots.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-573-dollar-20-sent. Die prys van goud is drie-duisend-184-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….