Nuus 06:00
BULLETIN 14 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC kritiseer die VSA se besluit om vlugtelingstatus aan Afrikaners te verleen
# Minister Ramokgopa sal vandag die land inlig oor die kragsituasie
# En Zelensky is bereid om môre ’n vredesgesprek met Putin te voer
# Die ANC sê die VSA se besluit om vlugtelingstatus toe te ken aan 49 Afrikaners, is gebaseer op vals bewerings van vervolging. Die party verwerp die idee dat enige groep in Suid-Afrika etnies geteiken word en noem die skuif ‘n politieke plan om demokrasie te ondermyn. Die party sê hierdie individue vlug nie vir gevaar nie, hulle vermy geregtigheid en gelykheid. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, dring aan burgers moet verenig om die waarheid, grondwetlike waardes en nasionale soewereiniteit te verdedig:
# ActionSA eis dringende beleidshervormings om die verergerende werkloosheidskrisis aan te pak, aangesien meer as 8,2-miljoen mense werkloos is. Die party sê die regering van nasionale eenheid het nie daarin geslaag om beslissend op te tree nie, ondanks die beloftes om die ekonomie om te keer. Alan Beesley van ActionSA sê Statistiek Suid-Afrika se jongste syfers, wat ‘n uitgebreide werkloosheidsyfer van 43.1-persent aandui, weerspieël swak leierskap. Beesley waarsku die krisis sal vererger tensy daar in die volgende begroting werklike hervormings ingestel word:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sal vandag omvattende inligting gee oor die doeltreffendheid van elektrisiteitsopwekking. Dit volg nadat Eskom gister fase twee beurtkrag ingestel het wat tot môre tydens aand-spitsure geld. Die kragverskaffer sê die besluit is geneem weens vertragings met die terugkeer van opwekkingseenhede en onverwagte onderbrekings, wat gelei het tot die verlies van meer as 13-duisend-megawatt krag. Ramokgopa sal na verwagting hierdie terugslae bespreek en planne uiteensit om die netwerk bestendig te maak.
# Die DA sê die regering van Gauteng se premier, Panyaza Lesufi stel nog steeds die inwoners teleur, met die provinsie se werkloosheidsyfer wat gestyg het tot 34,7-persent, vanaf 34,4-persent. Die jongste kwartaallikse arbeidsmag-opname wys dat daar 2,7-miljoen werklose inwoners in die provinsie is, met ‘n bykomende 579-duisend ontmoedigde werksoekers. Mike Moriarty van die DA het Lesufi se ekonomiese strategieë gekritiseer, insluitend die Nasi Ispani-program, wat nie in staat was om beleggers te lok of om infrastruktuurprobleme aan te spreek nie:
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, sê hy is beskikbaar vir regstreekse vredesgesprekke met sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, tydens sy besoek môre aan Turkye, waar hy president Recep Tayyip Erdogan sal ontmoet. Zelensky sê die enigste manier om ‘n skietstilstand en ‘n einde aan die oorlog te verseker, is deur regstreekse gesprekke met Putin. Hy sê as die gesprek misluk, voorsien hy sterk sanksies deur die VSA en die Europese Unie, aangesien dit sal toon Rusland is nie gereed vir diplomasie nie.
# Krieket: Kagiso Rabada lei die Proteas se sesman-snelboul-aanval in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië, wat op 11 Junie op Lord’s in Londen begin. Die ander snelboulers is Lungi Ngidi, Dane Paterson, Marco Jansen, Wiaan Mulder en Corbin Bosch, ondersteun deur die draaiboulers Keshav Maharaj en Senuran Muthusamy. Afrigter Shukri Conrad sê hulle het die afgelope 18 maande hard gewerk om ’n mededingende rooibal-eenheid te bou, en die bereiking van die eindstryd is ‘n bewys van hulle vordering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-126-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-254-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….