Nuus 06:00
BULLETIN 13 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die Afrikaners wat na die VSA vertrek het, kwalifiseer nie as vlugtelinge nie
# Action Society veroordeel POPCRU se steun vir die BBP-beskermingsbeamptes
# En Netanyahu bedank Trump vir sy hulp met die vrylating van ‘n gyselaar
# President Cyril Ramaphosa het bewerings van die hand gewys dat die 49 wit Suid-Afrikaners wat onlangs na die Verenigde State verhuis het, kwalifiseer as vlugtelinge. Hy het tydens die Afrika Uitvoerende Hoofde-forum in Abidjan, Ivoorkus, gesê hierdie mense word nie vervolg nie en voldoen dus nie aan die kriteria vir vlugtelingstatus nie. Hy het sekere burgerlike groepe gekritiseer en daarvan beskuldig dat hulle waninligting versprei en nasionale eenheid ondermyn:.
# Business Leadership South Africa sê hulle sal voortgaan om Operasie Vulindlela in sy tweede fase te ondersteun. Fase twee sal fokus op munisipale dienslewering, digitale transformering en die aanpak van ruimtelike ongelykheid. Die fokuspunte sal ondersteun word deur ‘n aanlyn BLSA-opsporingsinstrument wat pas bekendgestel is om die vordering met hervormings te monitor en vertragings te identifiseer. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, het in haar weeklikse nuusbrief gesê die inisiatief het reeds gehelp om kragonderbrekings te verlig, die vervoer van goedere op spoorlyne te versnel en om visumagterstande op te klaar.
# Action Society sê hy is geskok dat polisievakbonde adjunkpresident Paul Mashatile se agt BBP-beskermingsbeamptes, wat in 2023 betrokke was by die gewelddadige bloulig-aanval op burgerlikes, verdedig. Die organisasie het die Polisie- en Gevangenisse-Burgerregtevakbond gekritiseer omdat hulle die beamptes as slagoffers uitbeeld, ten spyte daarvan dat een man bewusteloos gelaat en ander getraumatiseerd is. Juanita du Preez van Action Society sê burgerlikes sien die beamptes inderdaad as boewe en steun oproepe vir regverdiger dissiplinêre prosesse:
# Hoofregter Mandisa Maya sal na verwagting die Mthatha Hooggeregshof in die Oos-Kaap besoek. Dit volg op bewerings dat die hof se administratiewe amptenare omkoopgeld van tot 15-duisend-rand van prokureurs eis voordat siviele sake aangehoor word. Die Kantoor van die Hoofregter sê hulle het ‘n forensiese ondersoek ingestel in ooreenstemming met die organisasie se bedrogvoorkoming- en teenkorrupsiebeleid. Maya sal na verwagting die waarnemende regter-president van die Oos-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof, regter Zamani Nhlangulela, besoek.
# Die Israelse premier Benjamin Netanyahu het president Donald Trump bedank vir sy hulp met die vrylating van die Israelies-Amerikaanse gyselaar, die 21-jarige Edan Alexander uit Gaza. Hamas het die laaste bekende lewende Amerikaanse gyselaar Maandag aan die Rooikruis oorhandig. Hy het in ‘n elite-infanterie-eenheid op die Gaza-grens gedien toe Hamas hom tydens die aanvalle op 7 Oktober ontvoer het. Trump het sy spesiale gesant, Steve Witkoff, erkenning gegee om Alexander se vrylating te verseker.
Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, is beïndruk met die diepte in die Britse en Ierse Leeus se groep vir vanjaar se toer na Australië. Andy Farrell het 15 Ierse spelers en 13 Engelse, insluitend kaptein Maro Itoje, gekies in sy toergroep van 38 wat drie toetse teen die Wallabies sal speel. Schmidt sê hy ken baie van die spelers uit sy tyd as afrigter van Ierland. Hy is ook baie beïndruk met die jong Engelse flank Henry Pollock, wat nog net 32-minute se toetsrugby gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-890-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-237-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….