Nuus 06:00
BULLETIN 8 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Operasie Vulindlela Fase II bekend
# Die finansiële waghond ondersoek Suid-Afrika se bankkoste
# En krieket: Die Protea-vroue ly ’n nederlaag teen Indië
# President Cyril Ramaphosa het amptelik Fase Twee van Operasie Vulindlela van stapel gestuur. Hierdie gesamentlike inisiatief tussen die Presidensie en die Nasionale Tesourie het ten doel om strukturele hervormings oor sleutel sektore te versnel. Fase Twee stel 30 prioriteitshervormings bekend wat fokus op munisipale dienslewering, stedelike verdigting en digitale transformasie. Hy het beklemtoon dat Vulindlela daarop gemik is om netwerkindustrieë te moderniseer, ekonomiese mededingendheid te verbeter en inklusiewe groei te bevorder:
Ramaphosa sê voorts die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering sal ‘n mededingende mark skep, koste besnoei en doeltreffendheid verhoog. Ramaphosa het hervormings aangekondig om Eskom te herstruktureer en die transmissie-infrastruktuur uit te brei. Hy het ook bevestig Transnet se spoorwegnetwerk sal binnekort privaat operateurs verwelkom, en ‘n Nasionale Wateragentskap sal gevorm word om waterbronne te bestuur en daarin te belê:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor gaan bankkoste ondersoek te midde van groeiende openbare kommer oor die hoë bankfooie. Daar sal gekyk word of banke onmededingende praktyke gebruik of kliënte te veel laat betaal vir basiese dienste. Dit volg ná vorige ondersoeke oor PayShap-transaksiefooie en oproepe vanaf parlementslede vir meer deursigtigheid in bankkoste. Die ondersoek is daarop gemik om billike pryse te verseker en verbruikers teen moontlike uitbuiting te beskerm. Verdere besonderhede oor die omvang en tydlyn van die ondersoek word binnekort verwag.
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê 3,03-miljard-rand is oor die volgende drie jaar vir infrastruktuur bewillig. Hy het gister die Stadsrede gelewer onder die tema, Die Johannesburg wat ons almal wil hê. Die geld sal aangewend word vir die opgradering van agt van die mees onderbediende gebiede – Diepsloot, Southern Farms, Ivory-park, Orange Farm, Soweto, Riverlea, Zandspruit en Eldoradopark. Morero sê ‘n belegging in agtergeblewe en gemarginaliseerde gebiede sal help om infrastruktuur-agterstande uit te wis en sal die nedersettings in gemeenskappe omskep wat volhoubaar is vir die toekoms.
# Spanje gaan ’n konsep-voorstel by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering indien oor dringende maatreëls om die dood van onskuldige burgerlikes te stop en humanitêre hulp in Gaza te verseker. Eerste minister Pedro Sanchez het aan sy Parlement gesê die internasionale gemeenskap is nie ongeërg oor wat in die Palestynse gebied gebeur nie. Israel het in Maart sy aanslag hervat ná ’n wapenstilstand van twee maande. Die Sosialistiese premier is een van die mees uitgesproke kritici van Israel se optrede in Gaza wat tekorte aan noodsaaklike voorraad veroorsaak.
# Krieket: Die Protea-vroue se plaasvervanger-kaptein, Chloe Tryon, sê hulle moet nou basiese dinge goed begin doen. Suid-Afrika het ‘n nederlaag van 23 lopies teen die Indiese Vroue in hul eendagwedstryd in Colombo gely. Dit sluit hulle uit Sondag se eindstryd. Indië het 337 vir nege lopies aangeteken, met Jemimah Rodrigues op 123. In reaksie hierop is die Proteas beperk tot 314 vir sewe, met Annerie Dercksen op 81. Tryon sê ondanks die nederlaag het die span het baie karakter getoon. Suid-Afrika speel môre teen die gasvrou Sri Lanka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-5-dollar-40-sent. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….